Die plaaslike DBV-personeel het verlede Donderdag tot die redding van ’n Pekinees-tefie gekom wat in ’n oop drein op ’n sypaadjie in Allenbystraat beland het.
Die hondjie wat blind in die linkeroog is, het uit haar eienaars se erf in Bredelstraat gekom. DBV-inspekteur Maggie Singh, vertel dat sy en Ashu Singh, kantoorassistent by die DBV, die middag van die dierehospitaal af op pad was met ’n Great Dane wat hulle by die veearts gehad het, toe sy die hondjie in die middel van die pad sien hardloop het.
Terwyl hulle nog probeer het om die hondjie veilig uit die straat te kry, het sy waarskynlik geskrik vir die geblaf van ‘n ander hond in die omgewing, en die volgende oomblik in die oop drein geval.
Ashu het haar dadelik te hulp gesnel en uit die drein gehaal. Sy is nie beseer nie.

Kort daarna het die DBV ’n oproep gekry van die eienaars van die Pekinesie om te rapporteer dat sy soek is. Die DBV-personeel het dadelik besef dat dit die hondjie was wat hul pas gered het.
Die hondjie was oorstelp van vreugde toe sy kort daarna met haar eienaar herenig is.

‘n Blye herontoeting met haar eienaar, Charlene Venter.





