NewsNews

Kan moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse skole ‘n werklikheid word?

Tydens haar onlangse begrotingstoespraak het die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, verwys na president Ramaphosa se teiken in sy staatsrede dat elke skoolkind teen die ouderdom van tien met begrip moet kan lees.

Tydens haar onlangse begrotingstoespraak het die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, verwys na president Ramaphosa se teiken in sy staatsrede dat elke skoolkind teen die ouderdom van tien met begrip moet kan lees. Sy merk op dat die taalkwessie ‘n sleutelfaktor is wat ‘n impak op leesvermoë en geletterdheid het en verwys dan na die belangrikheid van Afrikatale as onderrig en leestale. Die woord “moedertaalonderrig “ kom egter nie een keer in haar toespraak voor nie.

 

In ‘n onlangse artikel op News24 het prof Kathleen Heugh, ‘n Suid-Afrikaner wat tans mede-professor in Toegepaste Lingiustiek by die Universiteit van Suid-Australiê is, oor die belangrikheid van moedertaalonderrig geskryf.  Sy is ‘n deskundige in post-apartheid taalbeleid in Suid-Afrka en het regerings in meer as 30 lande geadviseer oor die rol van moedertaal, minderheidstale en veeltalige onderwys. Sy wys daarop dat UNESCO (die Verenigde Nasies se onderwys, wetenskap en kultuurorgansiasie) en die Vereniging vir die Ontwikkeling van Onderwys in Afrika (ADEA) in 2005 ‘n studie van onderwystaalbeleid in 25 lande begin het. Teen die middel van 2006 het hulle aan ministers van onderwys gerapporteer dat vir ‘n leerder om in Engels, Frans of Portugees  te  kan leer, daar eers ‘n minimum van ses jaar moedertaalonderrig nodig is, asook tegelyke goeie onderwys in Engels, Frans of Portugees. Onder minder as optimale omstandighede en met minder goeie hulpbronne (soos in Suid-Afrika en Ethiopië), skuif die minimumtyd vir  moedertaalonderrig en goeie Engels na agt jaar op.

 

In Suid-Arika is dit beleid dat daar in nie-Afrikaanse skole drie jaar moedertaalonderrig sal wees voordat daar na Engels oorgeslaan word. Maar die gehalte van Engelse onderrig is tydens daardie drie jaar en daarna baie swak, met onderwysers wat dit nie goed kan praat nie en nog minder daarin kan skoolgee – veral in landelike skole. Die gevolg is dat in die meeste landelike skole waar swart leerders skoolgaan, daar nie kognitiewe ontwikkeling kom wat met moedertaalonderrig gepaardgaan nie. Dit is een van die redes waarom so baie leerders nie teen tien jaar met begrip kan lees nie. Sommige kenners meen verder dat gebrek aan moedertaalonderrig in die die eerste ses jaar ook die oorsaak van Suid-Afrika se swak prestasie in wiskunde is.

 

Dis daarom onverstaanbaar dat ANC politici nie die internasionale navorsing oor moedertaalonderrig ernstig neem nie en dis onverskoonbaar dat hulle deur hulle eie vooroordele oor taal, miljoene kinders se toekoms, opvoedkundig en beroepsgewys,  benadeel en selfs vernietig.

 

In die swart gemeenskap (in teenstelling met ANC-kringe), is daar wel tekens dat daar leiers is wat begin om die belangrikheid van moedertaalonderrig op skool te besef.

 

In akademiese kringe is daar verskeie taalkundiges wat in die openbaar die regering se taalbeleid begin bevraagteken. In November 2016 is daar in Pretoria ‘n internasionale konferensie oor moedertaalonderrig gehou en in September 2017 en Februarie 2018 het die Kommissie vir die Bevordering van Taal-. Kulturele- en Godsdiensregte twee konferensies gehou waarin die belangrikheid van veeltaligheid, onder andere  in die bevordering van sosiale kohesie bespreek is. Ná ‘n werkswinkel va bekanghebbers in 2018 is besluit om ‘n “Multilingualism Advocacy Forum” te stig om onder andere moedertaalonderrig te bevorder en die breër instelling daarvan te ondersoek. ‘n Ad hoc-komitee hiervoor is reeds aan die werk.

 

Dit lyk asof daar hoofsaaklik drie redes is waarom ANC-beleid moedertaalonderrig so stief behandel en hoogstens lippediens daaraan bewys. Die eerste is ‘n vrees dat dit kan lei tot “balkanisering”, waar meer klem op etnisiteit as op ‘n breë Suid-Afrikanerskap geplaas word – iets wat apartheid beoog het. Die tweede is dat die politieke elite in die ANC (maar ook in ander partye) grotendeels verstedelik is en Engels redelik magtig is, dit as die taal van aspirasie beskou en as ‘n instrument van integrasie en nasiebou sien. In hulle eie beleidsdokumente is die ANC positief oor akulturalisasie, en die bou van een nuwe Engelssprekende nasie. Die derde rede het met Afrikaans as onderrigtaal te doen. Omdat die ANC regering nie genoeg gedoen het om nuwe skole vir ‘n snelgroeiede veral stedelike bevolkig te bou nie, is daar elke jaar ‘n gebrek aan toegang vir baie swart leerders. Goed toegeruste en bestuurde Afrikaanse skole word as ‘n ideale teiken beskou om hierdie toegang te bewerkstellig – al is die meeste van hulle reeds oorvol (soos wat die Overvaal-geval bewys het).  Afrikaanse skole word verder (deur politici soos Panyasa Lesufi) as ‘n oorblyfsel van apartheid beskou, wat teen wil en dank van hierdie rassitiese taal moet afsien.

 

Prof Heugh het haar News24 artikel afgesluit deur te sê dat die nuwe aanslag teen Afrikaans as medium van onderrig nie behulpsaam is nie. Dit verminder net geleenthede vir kinders om in ‘n taal wat hulle die beste ken, te leer. Dit neem die land weg van die veeltaligheid wat leerders vir die toekoms moet voorberei. Die enigste leerders wat onder hierdie omstandighede kan baat, is dié wat Engels as huistaal het en die kinders van die politieke elite is – en dit bevorder nie gelykheid nie.

 

Dit is insiggewend dat hierdie woorde kom van ‘n Engelssprekende Suid-Afrikaner – maar iemand wat die internasionale navorsing op die gebied van moedertaalonderrig ken.

 

Dit is teen hierdie agtergrond – en die druk waaronder openbare skole is waar Afrikaans as onderrigtaal gebrui word – dat die MOS-Inisiatief onlangs geloods is. “MOS” staan vir “Moedertaal in Onafhanklike Skole” en is die vrug van ‘n lang proses waaraan al die organisasies wat by Afrikaanse onderwys betrokke is, deelgeneem het. Die woord “mos” verwys ook na die plantje wat byna orals groei en min vogtigheid nodig het om te gedy; en dan ook na die unieke Afrikaanse woord wat as ‘n bevestiging van die voor-die-hand-liggende gebruik word: dis mos nou mooi!

 

Die MOS-Inisiatief is ‘n private maatskappy wat ‘n netwerk van volhoubare, onafhanklike Afrikaanse skole sal skep wat regoor Suid-Afrika bedryf sal word – oop vir almal, gemeenskapsgerig, bekostigbaar en met hoë standaarde en innoverende leer.  Dit sal aan voornemende beleggers die vooruitsig van ‘n goeie opbrengs op hulle kapitaal bied, terwyl dit ook ‘n Afrikaanse onderwysdiwidend sal lewer.

 

Die MOS-Inisiatief gaan nie openbare skole wat Afrikaans tans as onderrigtaal gebruik, ondermyn nie, maar eerder fokus op gebiede waar daar nie (meer) Afrikaanse skole is nie en waar daar steeds ‘n behoefte daarvoor is. Bekostigbaarheid en toeganklikheid sal kernkwessies wees waaraan aandag gegee moet word. En om te versker dat Afrikaansprekende leerders in lyn met internasionale navorsing goed toegerus word vir hulle toekoms, word oorweeg om Engels eerste taal en ‘n ander Afrikataal verpligtend in MOS-skole te maak. Dit sal veeltaligheid bevorder en leerders toerus om aktief in die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap’n rol te speel. Afrikaanse leerders wat ‘n ander Afriktaal magtig is en vlot kan praat, sal ook die stigma van Afrikaanse skole as rassisties, help voorkom.

 

Dit sal baie werk en tyd neem om só ‘n ambisieuse projek te laat slaag, maar daar is eenstemmigheid onder leiers in die Afrikaanse onderwysomgewing dat dit dringend nodsaaklik is om nou reeds ‘n begin daarmee te maak.

 

Teen die agtergrod van wat hierbo gesê is, is dit belangrik om te besef dat die MOS-Inisiatief die pad oopmaak om later ook moedertaalonderrig in onafhanklike skole vir ander inheemse tale daar te stel. Soos met Afrikaans, is daar ‘n goeie saak voor uit te maak dat die internasionale minimum van agt jaar se moedertaalonderrig, nie die maksimum hoef te wees nie. Daar is geen rede waarom binne die konteks hierbo genoem, moedertaalonderrig nie tot in matriek en selfs tot aan die einde van ‘n eerste graad op universiteit kan strek nie. Die verskynsel van onafhanklike (“privaat”) skole is nie so vreemd in die swart gemeenskap (en trouens in die res van Afrika) as wat dit onder Afrikaanssprekende is nie. Daar het oor die afgelope vyf jaar tientalle onafhanklike skole rondom Johannesburg opgespring, wat ‘n kwaliteit alternatief vir swart ouers bied vir die mislukte openbare onderwysstelsel. En alhoewel al hierdie skole Engelse onderrig bied, is daar ruimte vir moedertaalonderrig in skole wat nie Afrikaans is nie. En omdat die regering dit blykbaar nie gaan doen nie, sal die privaatsektor (weer) moet inspring. En daardeur eis Suid-Afrikaners net die regte op wat in artikel 29 van ons Grondwet gewaarborg word. En internasioane navorsing bewys onteenseglik dat moedertaalonderrig noodsaaklik is vir elke leerder om ‘n volle en funksionele landsburger te word – dis MOS die waarheid!

 

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting en ook die nuutaangestelde voorsitter van die MOS-Inisiatief

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button