Local newsNewsNewsBreaking News

86-Jarige plaasboer sterf aan hartaanval na inbraak op plaas

86-Jarige plaasboer sterf aan hartaanval na inbraak op plaas

VAALWEEKBLAD BERIG 24 Julie Bls2

VANDERBIJLPARK. – ‘n Dag nadat mnr. Piet van Waveren (79) erg getraumatiseerd was na ‘n plaasaanval op Vrydagoggend, 12 Julie in die Lindequesdrift-omgewing, is daar op sy buurman se plaas ingebreek. Die buurman is egter die volgende oggend aan ‘n hartaanval oorlede, nadat hy ontdek het hoeveel skade aangerig is.
Mnr. Nic Oosthuizen (86), ‘n gewilde en baie geliefde boer van die plaas Bronkhorstfontein en Frischgewaagd, is op Sondag 14 Julie, twee dae na die aanval op mnr. Van Waveren, oorlede. Dit het gevolg nadat inbrekers die Saterdagaand by die vyf motorhuise op sy plaas Bronkhorstfontein ingebreek het.
Volgens inligting is ‘n hele paar items gesteel en is die Mercedes in een van die motorhuise baie erg beskadig.
Volgens mnr. Oosthuizen se lewensmaat en vriendin van 14 jaar, Gerrie Heymans, dink sy dit was net een te veel toe hy die volgende oggend by die motorhuis kom. Hy het langs sy bakkie aan ‘n hartaanval beswyk.
‘n Werker op die plaas het hom gevind en vir Gerrie geroep, maar hy was reeds dood.
Hy het 40 jaar op die plaas gewoon en is ses weke gelede deur vier mans op sy plaas aangeval, waartydens hulle beeste gesteel het, maar hy het dit oorleef. Hy het ook vier ander inbrake op die plaas gehad.
Mnr. Oosthuizen was jare lank ‘n gewilde boer in die omgewing en het hoofsaaklik met beeste en mielies geboer. Hy het voorheen nog twee ander plase in die omgewing, Vaalfontein en Holfontein, besit.
Mnr. Oosthuizen se begrafnisdiens is op Vrydag, 19 Julie gehou omdat sy seun Theo, van die VSA moes kom om sy pa se diens by te woon. Mnr. Oosthuizen laat sy lewensmaat, Gerrie Heymans, sy twee seuns Theo en Vivian en dogter Licia Badenhorst agter.

Lees berig oor Piet van Waveren hier

 

Related Articles

Back to top button