NewsNews

’n Kind se hele lewe in ’n sak gepak

’n Kind se hele lewe in ’n sak gepak

Die afgelope vier jaar was Colin en Sonja Viljoen se harte en huis oop vir kinders. Agt en twintig kinders wat reeds in die vier jaar tydelik hier ‘n veilige hawe van liefde gevind het. Kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe geken het. Sommige wie se ouers hulle nie meer wil hê nie. Ander verwaarloos of mishandel.
Van hierdie kinders wat by die Emunah Foundation in Schilbachstraat gehuisves is, was meeste babas, maar geen kind word ooit hier weggewys nie.
Die jongste was ’n pasgebore baba wat na net 60 dae in hul sorg, aangeneem is deur mense.
Die babas kom meestal direk van die hospitaal en is nie tienerswangerskappe nie. Babas wie se ouers eenvoudig besef hulle kan nie die kindjie versorg nie.
Van die 28 babas is twaalf deur mense aangeneem en die ander teruggeplaas in die sorg van hul ouers of familie in samewerking met maatskaplike dienste.
Sedert Emunah sy deure op 17 Julie 2015 in Parys oopgemaak het, vervul hulle ’n baie groot rol as plek van veiligheid, nie net vir kinders in die groter Parys nie, maar selfs van omliggende dorpe sover as Kroonstad, Potchefstroom en Vryburg.
Omdat daar geen staatsubsidie of enige finansiële hulp vir plekke van veiligheid soos die Emunah Foundation is nie, is die opsies baie beperk vir plasing van kinders wat gewoonlik vir ‘n drie maande tydperk onmiddellik gehuisves moet word totdat die wetlike prosedures vir pleegsorg afgehandel is.
Eers wanneer ’n kind in pleegsorg geplaas is, kan aansoek gedoen word vir ’n pleegsorg toelaag.
Pleegsorg prosedures neem somtyds veel langer as drie maande om af te handel, en was daar al selfs ‘n seuntjie wat van geboorte tot ‘n maand voor sy tweede verjaardag by hulle was.
Op ‘n stadium was daar ses babas gelyktydig in hul sorg.
Ten spyte van die groot stryd om oorlewing om ’n huishouding aan die gang te hou en te kan voorsien in die behoeftes van die kinders wat hier geplaas word, is hierdie ’n taak wat Colin en Sonja voel die Here hulle voor geroep het.
Hulle vertel met groot lof van hoe die gemeenskap van Parys hulle ondersteun en die handjievol mense wat maand na maand help voorsien in die behoeftes van hierdie kinders – van klere tot mediese sorg.
Die Emunah Foundation beskik ook oor ’n sogenaamde “babakluis” met ’n alarm wat afgaan sodra ’n baba in die kluis geplaas word. Hoewel hulle in die afgelope vier jaar nog nie ’n baba in die kluis gekry het nie, is ’n twee dae oue baba in ’n doeksak op hul sypaadjie gelaat. ’n Mamma wat eenvoudig nie kans gesien het om die kindjie groot te maak nie.
Met Emunah wat meestal net babas en klein kindertjies inneem, sal die VVA se veiligheidshuis in Vredefort weer help voorsien in die nood vir ’n plek van veiligheid vir ouer kinders. Die rede hiervoor is dat hierdie kinders dikwels getraumatiseerd is en dit moeilik is vir versorgers om behoorlik te kan omsien na elke ouderdomsgroep se unieke behoeftes as die groepe gekombineer word.
Wat die afgelope vier jaar hierdie egpaar en hul kinders geleer het, was om mekaar te waardeer. Die harde werklikheid van ’n kind wie se hele lewe in ’n klein sakkie gepak word, het so tot hulle as gesin gespreek, dat hul self twee van die kinders aangeneem het.
Dit was ’n moeilike vier jaar met groot uitdagings, maar ’n pad wat hulle geleer het om selfs nog meer na ander uit te reik, maar ook te sien hoe groot ander se omgee is.
“Emunah Foundation oorleef uit die genade van die Here en die goedheid van mense”.
As jy enige bydrae wil maak, hoe gering ookal – kinderklere, doeke, melk, selfs wil help met herstelwerk of enigiets anders by Emunah Foundation, kontak Colin by 072 223 7583 of Sonja by 083 696 7410. Bankbesonderhede vir Emunah is: Emunah Founda-tion NPC, Standard Bank, Lopende Besigheidsrekening, rekeningnommer 042317983.

Related Articles

Back to top button