Landloop vir ‘n goeie doel hierdie Vrouedag
“Ons wil besighede nooi om deel te neem aan die aflos ten bate van FAMSA. Vier lede per besigheid sal aan die aflos deelneem en dit behoort baie pret te wees.”

Landloop van die hoogste orde sal komende maand in Potchefstroom plaasvind wanneer die ASA Landloop Grand Prix op 9 Augustus by die NWU Joolplaas aangebied word.
Hierdie sal meer as net ‘n gewone landloopbyeenkoms op Vrouedag wees, met die gemeenskap wat ‘n groot rol in die sukses van dié Atletiek Sentraal Noordwes (ASNW) landloopbyeenkoms sal speel.
Volgens een van die organiseerders, Ruben Gouws van NWU Sport, is die doel om fondse vir FAMSA (Families South Africa) in te samel deur middel van besighede wat die baan borg en aan ‘n korporatiewe aflos deelneem.
“Ons wil besighede nooi om deel te neem aan die aflos ten bate van FAMSA. Vier lede per besigheid sal aan die aflos deelneem en dit behoort baie pret te wees,” noem Gouws.

Tesame met die korporatiewe aflos sal van die land se top landloopatlete ook hulle staal in hierdie ASA-byeenkoms wil toon.
Landloop was nog altyd ‘n hoogtepunt by die NWU Joolplaas en hierdie keer behoort sake nie anders te wees in hierdie 6km, 8km en 10km wedlope nie.
Volgens Gouws sal daar ook ‘n pretdraf deur die loop van die oggend wees en daar word ook beoog om ‘n musiekvertoning aan te bied.
Vir navrae kan Ruben Gouws by 084 494 9917 of [email protected] gekontak word.





