NewsNews

VEERTIG

Ek is nie in sak en as hieroor nie. Net emosioneel… en miskien ook ‘n bietjie homesick na ‘n tyd en plek lank vergete.

Liewe Persoon,

Vir Pa se veertigste verjaardag het ons ‘n get-together (nie ‘n party nie, want die Willemses is en was nog nooit party animals nie) by my Ouma Ciel se huis in Viljoenstraat (Viljoenskroon) gehou. Ja man, daai huis met die swart sinkdak, die wit fantails (of dakk**ers soos my Ouma dié ongenooide geveerdes genoem het) en, die Pride of India by die hek.

Van die hele gedoente kan ek net sulke grepies onthou… dit was in die aand, daar was baie mense en nog meer snorre (ek onthou dit, want Afrikaner ooms dood mos oor ‘n klapsoen – of jy nou bloedfamilie, aangetroud of per abuis in die omgewing is), daar was borde vol cocktail-uitjies-met-‘n-kasie op ‘n tandestokkie en van daardie papier-fluitjies. En ek was omtrent net so hoog soos Ouma Ciel se sideboard in die eetkamer. Dié een met die geraamde foto van ‘n jong en oopgesig Sakkie in die Polisiekollege, ‘n foto van Oupa Basjan se boerekommando en die Willemse-familiewapen.

Anyway.

Ek het in my binneste geweet dat ‘n veertigste verjaardag ‘n groot affêre is.

Fast forward tot by Pa se vyftigste verjaardag. Nou dit was ‘n geleentheid wat helder in my geheue is: ek onthou tot my en die Juffrou se matching outfits (ons is immers ‘n tweeling). Pilletjie se kêrel van destyds, ‘n pastorieseun van Leeudoringstad, was ook daar. So ook die hele Willemse-clan: Ouma Ciel,  broer Sakkie en sy gesin en, suster Hanna en haar gesin. Ooms en tantes, niggies en nefies… Ek onthou dat ons glase by Western Cellars in Virginia gehuur het. Die stoele en stoelrokkies het ons by die myn se klub gekry.  Daar was nie uitjies-op-‘n-stokkie-nie, maar wel skaapboud, hoender en soutvleis genoeg om ‘n army kos te gee. Snaaks hoe die lekker eet my altyd by bly. O, ja. En die vragte skottelgoed…

Ek word binnekort veertig.

En ek moet erken – ek is nogal lugtig vir dié mylpaal. Wat as alles my ook in ‘n war verbygaan? So deurmekaar soos dinge deesdae is, is niks onmoontlik nie!  Ek lê snags en wonder oor my vrees vir veertig. En getrou aan my (melodramatiese) aard, wil-wil die groot vier nul my na ‘n snesie laat gryp. Tyd stap aan en wag vir niemand nie. En voor jy jou oë rol: ek weet, dit is die normale gang van die lewe. Miskien is dit omdat ek weet dat daar nie ‘n opskop in Viljoenstraat sal wees nie. Dat Pa nie vir my ‘You are my sunshine’ sal sing nie en, dat die Willemse-clan nooit weer voltallig by ‘n tafel sal aansit nie.

Ek is nie in sak en as hieroor nie. Net emosioneel… en miskien ook ‘n bietjie homesick na ‘n tyd en plek lank vergete.

Ma, Pilletjie, Juffrou en die Swaer sal daar wees. Ons sal lekker eet en ons sal lag en vrolik wees. Ons sal die verjaarsdae van vroeër onthou – soos die een in Sub-B toe Ma vir my en die Juffrou ‘n stoofkoek (!) gebak het en ons elkeen ‘n BMX gekry het.

Ons sal innig dankbaar wees.

En wie weet, miskien sorg Ma vir cocktail uitjies.

Related Articles

Back to top button