Photo GalleriesSport

Comrades-fiks in net elf maande

Comrades-fiks in net elf maande

Skaars twee weke na die gesogte Comrades Marathon en Annemie Beukes draf alweer deur die strate van Parys. Die klein vroutjie spog sonder twyfel met die hart van ’n leeu.
Annemie vertel dat sy in Julie 2018 besluit het sy gaan hierdie grote aanpak, hoewel dit nooit haar droom was nie. Sy was alles behalwe ’n langafstand drawwer. Sy het begin soek na draf-maats en haar baie bekwame draf-span ontmoet. So het haar reis na die Comrades in Julie 2018 afgeskop, net minder as elf maande voor die skoot klap.
Volgens sommige bronne sou dit onmoontlik wees vir enige individu om binne nege maande fiks genoeg te word om die Comrades Marathon te voltooi. Annemie lag lekker terwyl sy vertel dat sy dink dit is waar. Sy was ’n tipiese kort-afstand drawwer en het gewoonlik nie meer as vyf kilometer aangepak nie. Nadat sy die besluit geneem het om deel te neem, het sy skouer aan die wiel gesit.
Sy vertel sy glo as jy ernstig is, fokus op jou doel, en jou gesondheid oppas, kan jy baie goed doen – selfs na net elf maande. ’n Oefenprogram, dieet, goeie aanvullings en rus is noodsaaklik om optimaal te presteer. Om te draf kan soms baie spanning op die liggaam plaas en jou immuunstelsel verswak. Dit veroorsaak dat jy makliker siek word. Om jouself in elke aspek op te pas, is in so ’n fiksheidsreis baie belangrik.
Annemie se raad is om reg te oefen. “Jou core moet sterk wees as jy ver gaan hardloop,” sê sy.
“Jy moet minstens twee keer per week in ’n gimnasium, met gewigte oefen. Om sterk te wees in jou middellyf en bene is so belangrik.”
Sy noem verder dat jy minstens vier keer per week moet draf en dat rus noodsaaklik is. Indien ’n dag sonder oefening ondenkbaar is, beveel sy aan dat jy op rus-dae iets soos Pilates beoefen.
Jou vitamien-aanvullings is nie bog nie. Annemie verduidelik dat ons genoeg van die regte stowwe moet inkry en ons kos is bloot nie genoeg om die nodige te verseker nie. Sy praat met lof van die gladdejantjie, of soos ons hom eerder ken, die smoothie. Sy gooi alles natuurlik daarin en drink dan ’n mengsel propvol vitamiene, minerale, en met lekker skop. Gemmer, kaneel, spinasie en so kan jy aanhou. Om genoeg van die regte kos te eet, eerder as te min, is van absolute belang vir elke mens.
Annemie is ’n gimnastiek-afrigter en spandeer baie tyd met kinders. Buiten daarvoor is sy ook ’n mamma van twee. Sy vertel dat ’n mens skielik bewus raak van hoe seisoenveranderings vir verkoues en griep sorg. Sy moes alles doen om te keer dat sy nie voor die Comrades Marathon siek word nie. Dit is juis hier dat jou liggaam die regte voedingstowwe moet inkry.
Annemie se deursettingsvermoë, oefenprogram en dieet het haar ʼn tyd van nege uur en 34 minute verseker, en dit vir haar eerste Comrades Marathon. Sy spog hiermee ten spyte van ’n besering in die maande voor die marathon en selfs teëspoed op die pad. Sy sê dat sy in retrospek baie nuwe kennis het, en bevestig net weer: Ervaring leer.
Annemie is veral na afloop van die marathon bly dat sy die ekstreme dinge gedoen het. Dit verseker dat sy nou na die Comrades Marathon, wanneer menige atleet met ’n siek lyf sukkel, “springlewendig gesond” is. En net soos almal vir Annemie ken, het sy selfs groter planne in 2020. Aan haar wilskrag is geen keer nie en as jy vandag deur die strate ry, kyk of jy die klein mensie sien draf – groot glimlag op die gesig.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button