News

Polisie bekommerd oor diefstal

Polisie bekommerd oor diefstal

Diefstal in Parys het die polisie beslis bekommerd. Die afgelope drie maande is daar gemiddeld elke maand tussen 10 en 15 huisbrake by wonings, tussen vyf en 10 inbrake by besighede en tussen 15 en 20 sake van gewone diefstal.
Hoewel daar mense gearresteer word, bly die diefstalsyfers hoog.
’n Groot probleem is dat mense nie altyd diefstal rapporteer nie. Wynand Nel van We Care bevestig dit en sê die getal gevalle wat op Whatsapp-groepe gerapporteer word, stem nie altyd ooreen met die getal sake wat by die polisie aangemeld word nie.
Hy sê dit is nie voldoende om misdaad op ’n buurtwaggroep aan te meld nie.
Die polisie moet kennis hiervan dra sodat misdaadtendense en probleem-areas bepaal kan word.
Hoewel net een poging van voertuigdiefstal in Bredellstraat verlede week by die polisie gerapporteer is, sien buurtwagpatrolleerders en die polisie gereeld voertuie wat saans in die straat gelaat word, en selfs voertuie wat nie gesluit is nie.
Maak seker jou voertuig is minstens in jou erf en veilig agter ’n hek of motorhuisdeur wat kan sluit. Sluit ook jou motor.
Die polisie waarsku ook dat daar steeds mense is wat met ’n slap riem gevang word met allerlei internet en sosiale media kooptransaksies.
Onthou as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik nie waar nie.Van motors tot braaiers en wat meer word deesdae so gesmous, soms deur baie gewetenlose “verkopers”.
Sodra die niksvermoedende slagoffer die geld oorbetaal het, is dit die laaste sien. En skakel jy dan weer die nommer op die advertensie, kom jy by dooimansdeur.
Maak maar goed seker voordat jy enige geld in iemand wat jy nie ken nie en wat geen verwysings het nie, se rekening inbetaal.
As iemand jou vra om eers geld oor te betaal voordat jy die gelukkige wenner is van ’n paar rand, kan jy meestal maar begin lont ruik.

 

Related Articles

Back to top button