NewsNews

Barmhartiges gee hoop vir haweloses

Barmhartiges gee hoop vir haweloses

Drie kollegas se hart vir hawelose mense het nie by praat gebly nie. Toe Marjaan Groenewald, Johan en Simone Steyn, wat tolke by die NWU is, ‘n dag by die werk hulle besorgdheid oor haweloses deel, het hulle die daad by die woord gevoeg. Hulle entoesiasme om haweloses te ondersteun, het die mense om hulle sommer ook laat vlamvat. Vriende en medekollegas het saam met hulle geld geskenk om 10 goedkoop slaapsakke van Kaapstad aan te koop. Dié slaapsakke bestaan uit plastiek wat met koerantpapier uitgevoer is om die koue te isoleer. Die drie samaritane se eerste uitreik was om die slaapsakke vir die straatslapers uit te deel. Die volgende week het hulle kos uitgedeel en die res is geskiedenis. Hulle is Juliemaand presies ‘n jaar besig om elke Vrydag of Saterdag hawelose mense in Potchefstroom te ondersteun.
Johan vertel dat hulle tans byna 15 mense op ‘n WhatsApp-groep is wat vir die haweloses bid en kos en klere uitdeel. “Wanneer ons nie op ‘n Vrydag kan uitreik nie, is daar altyd ‘n ander groepie wat instaan of wat op ‘n Saterdag gaan,” sê hy.

Johan Steyn deel kos vir ‘n hawelose uit

Hoewel die haweloses regoor die stad versprei is, is daar gereeld mense wat op die stoep van die ou Landrost-Post-en-Telegraafkantoor, langs die polisiestasie, slaap. Die groot stoep bied in die somer skuiling teen die reën en in die winter teen die koue. “Daar was al met een slag 25 mense wat op die stoep geslaap het,” vertel Johan.
Die groep wat uitreik, deel nie net kos en klere uit nie, maar doen moeite om elke persoon beter te leer ken. Hulle weet wat is elkeen se naam en ook wanneer iemand nie meer daar slaap nie. Hulle gaan selfs so ver om rond te ry en diegene te soek wat nie opgedaag het nie. Vir elkeen word daar persoonlik gebid. Die omgee-groep het al selfs ‘n Jesus-film vir al die haweloses by die Christ Embassy Church naby Potchefstroom Central School, vertoon.
Wanneer hulle donasies ontvang, koop hulle vir die mense ‘n bederfie. “Ons het met Paasfees vir almal paaseiers uitgedeel,” sê Simone. Die Duet-kerk gee ook elke maand ‘n donasie om vir hulle toiletware te koop. Hulle het opnuut bewus geword van die uitdagings wat haweloses in die gesig staar. “Behalwe dat die haweloses se komberse en klere gereeld gesteel word, het ek nooit daaraan gedink dat die mense ‘n behoefte aan water het nie. ‘n Man het eendag by ‘n gat in die pad afgebuk. Ek het eers gedink hy gaan bid, maar hy het water uit die gat geskep om te drink,” vertel Marjaan. Sedertdien ry sy met bottels water in haar kar rond en deel sommer vir die mense wat trollies met stapels plastiekafval stoot ook water uit.
“Ons uitreik na die haweloses is God se manier om vir hulle te vertel dat Hy hulle (die haweloses) liefhet. Die Here wil die beste vir sy kinders hê. Hy wil nie sy kinders op straat hê nie,” sê Marjaan. Hulle moedig die haweloses aan om werk te kry en vir hulself te sorg. ‘n Hele paar van hulle het uiteindelik werk gekry.
Die omgeegroep se droom is om die haweloses op ‘n meer georganiseerde manier te help. Hulle sou graag wil hê dat die J.B. Marks Munisipaliteit betrokke raak om dalk meer hulp aan die mense te verleen. Johan en Simone het al meer inligting ingewin en sal graag wil sien dat ‘n hawelose skuiling (homeless shelter) beskikbaar gestel kan word wat veilige slaapplek aan die mense verskaf. Miskien kan hulle ook ‘n sluitkas (locker) installeer wat aan haweloses die geleentheid gee om hulle min besittings soos komberse en slaapsakke in die dag veilig te bêre sodat dit nie gesteel word nie.
Mense wat graag by hulle goeie werk betrokke wil raak, kan by hulle facebook-blad aansluit: https://www.facebook.com/Blessed-to-be-a-blessing-316942099254423/.

Related Articles

Back to top button