NewsNews

Hoop vat vlam

Vir so lank as wat die mens al leef, kuier hulle om die vuur

Ons sing ode aan hierdie tye met liedjies soos Hardekole en Braaidag Vleisie. Dit is om die vuur waar ons diepste gesprekke plaasvind; waar ons stories deel en ons harte leeg praat oor die dinge wat saak maak. Imbumba-jeugontwikkeling in samewerking met Parys Museum gaan weer vir ons die vure aansteek, dit heel nag laat brand en jy is ook genooi.
Op Donderdag 18 Julie gaan die vure heel nag brand, knap langs die Parys Museum. Hierdie keer is almal welkom en gaan ons saam met die hawelose Parysenaars kuier. Ons wil ’n slag ons bure, wat op straat woon, ook beter leer ken. Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Het hulle families? Kinders? Droom hulle ook en wat inspireer hulle?
Dit is soveel makliker om hierdie mense te help deur iets af te laai. Ons bring komberse, kospakkies of ou klere – donasies wat broodnodig is, maar verbeel jou ’n gesprek met hierdie mense. Is hulle ook bekommerd oor die toestand van ons land? Watter wysheid deel hierdie gevalle held dalk met jou? As hierdie vrou ʼn tweede kans kry, wat sou sy verander?
Kom kuier saam en deel jou belewenis met ons. Bring sop, warm sjokolade of malvalekkers. Deel jou gunsteling bederf met iemand en hoor sy storie. So kan ons hierdie stories versamel, oorvertel en ’n nuwe soort hoop bring. ’n Hoop gebore uit begrip. Die begrip oor wat en hoe ons werklik kan help om ’n blywende verskil te bring.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak vir Diané by 071 388 0446.

Related Articles

Back to top button