CommunityNews

Skietgeveg na gewapende rooftog by huis

Die polisie het na ’n skietgeveg ’n gesteelde voertuig naby Westonaria teruggekry, nie lank nadat dit tydens ’n rooftog by ’n huis in Potchefstroom gesteel is nie.

Die polisie het na ’n skietgeveg ’n gesteelde voertuig naby Westonaria teruggekry, nie lank nadat dit tydens ’n rooftog by ’n huis in Potchefstroom gesteel is nie.

Tydens die skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes is een verdagte gewond. Die gewapende rooftog het Dinsdagaand omstreeks 19:30 in Wagnerstraat plaasgevind. Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het twee vroue by die huis aangekom om vir een van hulle se ouers te kuier. Terwyl die vroue in die kombuis was, het hulle die vrou se pa in die gang gesien waar een van die verdagtes besig was om hom aan te rand.

Die vrou het ’n baba in die huis gehad en toe sy hardloop om haar baba te soek, het sy in ’n ander verdagte vasgehardloop. Die verdagtes het die vroue en die pa vasgemaak en aangerand en wou kontant en die kluis se sleutels van hulle hê. Die verdagtes het later van die toneel met selfone, juweliersware en twee voertuie gevlug.

Mooirivier Beskerming was vinnig op die toneel om die familie by te staan en ER24 het na die familie se beserings omgesien. Niemand is ernstig beseer nie. Die polisie, in samewerking met Mooirivier Beskerming, was intussen op die uitkyk vir die gesteelde voertuie. Een van die voertuie is op die N12 gesien waarna ‘n jaagtog tussen die polisie en verdagtes gevolg het. Volgens Manyoba het die verdagtes tydens die jaagtog op die polisie begin skiet.

By die Randfontein-kruising naby Westonaria het hulle uit die voertuig gespring en weggehardloop. Die polisie het die verdagtes in die veld verloor, maar bloedspatsels is in die voertuig gekry. Volgens die polisie kan dit daarop dui dat een van die verdagtes tydens die skietgeveg gewond is.

’n Saak van huisroof word ondersoek.

Related Articles

Back to top button