NewsNews

Hier leef ’n dorp se geskiedenis vir oud en jonk

Hier leef ’n dorp se geskiedenis vir oud en jonk

Die Parys-museum het Sondag 16 Junie op Jeugdag vir die eerste keer weer sy deure vir die publiek oopgemaak.
Onder die besoekers was dr. Almut Pollmeier en van die Duitsers wat betrokke is by die befondsing van die Lewis Balink Foundation in Tumahole.
Daar word reeds vir etlike maande deur Iris Andrew en enkele helpers by die museum gewerskaf om dié historiese juweel ’n nuwe baadjie te gee.

 

 

So is daar die afgelope tyd gewerskaf in die museum.

Uit die pakke ou koerante lees sy wat daar oor ‘n dorp en sy mense geskryf is. Stories van onthou wat Iris Andrew met haar onblusbare geesdrif om die dorp se museumdeure oop te hou, aan besoekers vertel.

Dit is juis Iris se onblusbare ywer en deursettingsvermoë om die dorp se museum oop te hou, wat gesorg het dat haar planne gestalte gekry het in ‘n splinternuwe voorkoms vir die museumvertrekke.
Dis hier waar sy letterlik tussen die stof en dit wat die storie van Parys vertel, werskaf sonder betaling, om seker te maak dat elkeen die geleentheid sal hê om op die spore van gister met sy talle staaltjies en interesanthede te kan loop.
Met geen fondse beskikbaar vir die museum vir instandhouding of bedryfsuitgawes, het eers die Geologiese Vereniging aan boord gekom, en is een van die museumvertrekke ingerig om ‘n indrukwekkende en visuele uitstalling te huisves van die Meteoriet impakkrater wat die Vredefort Koepel getref het.
Hier kan besoekers vir die eerste keer nou duidelik sien wat die gevolge van hierdie geologiese wonder was, en waarom die Koepel deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar is.
Die uitstalling wat gebou word met die hulp van die tweelingbroers, professors Morris en Richard Viljoen, en geo-kunstenaar Maggie Newman, met fondse van die Oppenheimer-trust, sal eersdaags amptelik tydens ‘n spogfunksie geopen word.
Sondagoggend was daar ‘n spesiale kykie na wat gedoen word met die uitstalling, maar ook wat die Lewis Balink Foundation se projek, Positive Souls, doen.
Alles wat met dié Positive Souls naaldwerkprojek by die fabriek in Tumahole gemaak word, sal voortaan in ‘n curio-winkel in die museum verkoop word.
Die produkte is organies, en sal daar selfs om ‘n koppie koffie in die curio-vertrek geskiedenis gesels kan word.

Related Articles

Back to top button