NewsNews

“Wat ons gee kom uit ons harte”

So help hulle armoede verlig

Vrydag vir Vrydag kom hul nader gestap met hande wat dankbaar vou om die plastiekbakkies vol warm sop. Omgee uit ‘n kattebak op die parkeerterrein voor Parys se stadsaal.
Vir baie is dit die eerste kos vir die dag. Daar word nie vrae gevra nie. Daar word nie geoordeel nie. Elkeen wat honger het kan kom haal.
So reik Client Prison Care Ministeries uit na hulle in nood.
Maar dit is nie net die potte boontjie- en groentesop wat elke Vrydag gekook word nie.
Die geregistreerde PBO (Public Benefit Organisation) gee tans weekliks kruidenierspakkies uit vir nagenoeg 70 mense met nood.
By hul perseel in Noorderstraat het Ria Steenkamp en die vrywilligers wat haar help ’n groentetuin begin, en met dié groente en die handjievol mense wat help met skenkings, maak hulle week na week die kruidenierspakkies op vir mense van Parys en Schonkenville. Vrydae word die sop en brood uitgedeel.
Waar hulle hoor van nood probeer hulle help, want sê Ria, hul misie is om ’n liefdesdiens te bewys aan hulle wat deur honger en armoede geraak word. “Wat ons gee kom uit ons harte,” sê sy wanneer sy praat oor die geweldige groot nood in Parys wat toegeskryf word aan onder meer werkloosheid, maar ook die toenemende gebruik van drank en dwelmmiddels. Mense wat navrae het oor die organisasie wat vanjaar 5 jaar oud is, kan Ria skakel by 076 165 0244.

 

Related Articles

Back to top button