NewsNews

Beeldhouer vertel van Penkop-beeld simboliek

Die onthulling van die Penkop-beeld deur Danie Langner en Jacques Muller saam met lede van die Parys Voortrekkerkommando, sal na verwagting op e-nuus op 16 Junie gesien kan word.

Beeldhouer Jacques Müller beskryf die Penkop-beeld wat deur die FAK en die Parys Voortrekkerkommando op die Udolpho Rivierplaas net buite Parys onthul is, as een van sy moeilikste werke nog waaraan hy twee maande gewerk het om die Penkop-figuur uit soliede klip te kap.
Die beeld is ‘n stil getuienis van die trots en vasberadenheid van die Penkoppe van ouds wat ook weerklank vind in die Penkoppe van vandag se Voortrekkers.
Jacques vertel dat sy grootste uitdaging die posisionering van die seun was wat gevorm moes word soos wat die klip dit toegelaat het.
Dit beeld die kind uit in die liggaam van ‘n volwasenne. Kind, maar tog nie meer kind. Die struweling tussen die gemaklikheid en ongemaklikheid van grootword. Vormingsjare.
Op meesterlike wyse het hy die simboliek vasgevang van die Afrikaner-kultuur waarmee seuns gevorm is uit die harde werk wat deur die aambeeld voor die seunsfiguur uitgebeeld word. Jong seuns met ‘n trots in hul verlede, geloof in hul Skepper, opvoeding en dit waarvoor hul kultuur staan.
Aan die kante van die beeld die wiel en die vlam wat nooit sal doodgaan, gefosaliseer in klip.
Op die voetstuk van die beeld die woorde, wat Jacques geskryf het: “Omhels met bandolier wat geen doel meer dien nie, sy laaste uitweg die 7.63 mm-Mauserpistool wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het. Oortrek met storms van angs, bewoë, ondenkbaar. Kind. Man. Naïef. ’n Komieklike determinasie om ’n oormag te verslaan. Ongeskonde geloof in iets veel groter as lewe. Wiel voorwaarts. Vlam ongeblus. Rigtingwyser versteen. Vasberade. Dapper. Fondament. Monument. Trots. Onsterflik. Penkop. Hou Koers.”
Op die gedenkmure agter die beeld die name van 2 466 Penkoppe tussen die ouderdom van 6 en 16 jaar wat die Anglo Boere-oorlog oorleef het.
Die Penkop-beeld is een van drie nuwe beelde wat vanjaar ter viering van die FAK kultuurorganisasie se 90ste bestaansjaar onthul word.

Dr. Danie Langer en van die Voortrekkers van Parys Kommando by die gedenkmure met die borde met die name van die Penkoppe tussen 6 en 16 jaar wat die Anglo-Boereoorlog oorleef het
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die beelde word vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die toekoms, en nie die verlede nie. “Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop Afrikaners trots is. Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie.”
Die eerste van die drie beelde is van dr. NJ van der Merwe, stigterlid en eerste voorsitter van die FAK en eerste hoofleier van die Voortrekkers. Die beeld is by die FAK se hoofkantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria onthul. Die derde beeld is getiteld, “Sorg” en beeld ’n kampsuster uit in ’n konsentrasiekamp. Dit sal in Oktober in die Irene-konsentrasiekamp in Irene, Centurion onthul word. Aldrie beelde is deur beeldhouer en skilder, Jacques Műller, gemaak.
Die onthulling van die Penkop-beeld deur Danie Langner en Jacques Muller saam met lede van die Parys Voortrekkerkommando, sal na verwagting op e-nuus op 16 Junie gesien kan word. Daar word ook reeds gewerk aan die kultuurterrein by Udolpho waarby Parys Voortrekkers betrokke sal wees. Mense wat moontlik ossewa-wiele of ou implemente het wat geinkorporeer kan word by die kultuurterrein, word gevra om Trudie of Kobus by Udolpho te skakel by 082 551 7262 of 082 822 3411.
* Jacques Muller het verlede jaar die borsbeeld van pres. Paul Kruger in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria herstel nadat vandale dit beskadig het. Hy het ook ’n heel nuwe beeld uit graniet en marmer van Paul Kruger geskep, wat verlede jaar op 10 Oktober, op Kruger se verjaarsdag, onthul is. Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings regoor SA, Australië, Italië en die VSA.

  • Die insetsel op KykNet Kwela oor die 50 jaar reunie van die Uile-span van die Voortrekkers Goudveld, word Sondagaand 18:00 uitgesaai.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button