
Twee mans wat Woensdagmiddag omstreeks 14:30 in die fontein by die Madiba banketsaal in Potchefstroom gebad het, het hewige reaksie onder inwoners uitgelok.
Die foto en ‘n video, wat op Facebook geplaas was, wys hoe die twee mans hulself met seep smeer en dit met die fontein se water afspoel. Inwoners was verdeeld in hulle reaksies, sommiges het gevoel dat die twee mans moontlik haweloos is en ten minste hulself probeer skoon hou. Ander inwoners meen egter dié openbare ruimte is nie die plek om dit te doen nie.
“Daar is borde op wat duidelik sê wat nie by die fontein mag gebeur nie,” het een inwoner op Facebook gesê.
Dit is onduidelik of die mans werklik haweloos is. Volgens van die inskrywings op Facebook is dit twee trokdrywers.



