Gerugte dat daar onlangs ’n kaping en selfs ’n ontvoering op die Bult plaasgevind het, blyk na vals nuus wat oor sosiale media versprei word.
Die Herald het self navraag gedoen toe dié gerugte verlede week op Facebook versprei is.
Die polisie dra nie kennis van ’n ontvoering, poging tot ontvoering of poging tot kaping wat in die afgelope paar weke op die Bult aangemeld is nie.
Die Herald het wel op ons webtuiste berig oor rowers wat verlede Woensdag op die Bult vasgetrek is nadat hulle twee studente van hul selfone beroof het en gepoog het om nog twee studente te beroof.
Hulle is op heterdaad betrap en drie van die vier verdagtes is in hegtenis geneem. Die vierde een het gevlug. Die polisie het ook beslag gelê op ’n ongelisensieerde vuurwapen wat in die rowers se besit was.
Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het in ’n onlangse verklaring gewaarsku oor die gevare daarvan om vals nuus op sosiale media te versprei. Hy het veral verwys na die gerugte dat ’n damestudent in Steve Bikolaan ontvoer is.
“Valse inligting oor die voertuig wat na bewering tydens hierdie voorval gebruik is, het reeds daartoe gelei dat ’n onskuldige student gedreig is,” sê hy.
“Beskermingsdienste en Studentelewe stel die veiligheid van ons studente voorop en hanteer alle voorvalle met dringendheid en erns.”
Hy vra dat studente eerder as om vals inligting te versprei, gebruik maak van die bestaande amptelike NWU-kanale om inligting te bevestig.
“Studente wat valse inligting oor die NWU skep en versprei, oortree die reëls en beleide van die NWU, en daar kan dissiplinêr teen hulle opgetree word,” waarsku hy.
Kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder maan enige studente wat al slagoffers van rooftogte of enige ander misdade in die Bult omgewing was, om dit by die polisie aan te meld. “Dit kan help om nog misdadigers vas te trek,” het sy gesê.




