NewsNews

Slim hond monitor glukosevlak

Slim hond monitor glukosevlak

‘n Hond wat jou waarsku dat jou bloedsuikervlakke daal, is beslis goud werd wanneer jou lewe daarvan afhang. Amberley, ‘n tweejarige labrador, gaan eersdaags die eerste hond in Potchefstroom wees wat haar eienaar, Lindi Opperman se bloedsuikervlakke sal monitor.

Lindi, ‘n LLB-student aan die NWU, leef al vir 17 jaar saam met haar outo-immunsiekte waarvoor daar geen genesing is nie. As tipe 1 diabeet produseer haar pankreas nie insulien wat nodig is vir selle om glukose op te neem nie. Wanneer insulienvlakke afneem, daal die glukose in jou bloed. Liggaamselle kry nie energie nie en jou liggaam gaan in ‘n toestand van skok. Organe kan ingee.

Dit het al ‘n paar keer gebeur dat Lindi haar bewussyn verloor het omdat haar glukose vlakke te laag gedaal het. Die tatoeërmerk aan haar gewrig wat haar tipe 1 diabeetusstatus aandui, is al hoe omstanders sal weet wat haar dan makeer. “Gelukkig was my kêrel al meer as een keer tot my redding wanneer dit gebeur het,” glimlag sy skamerig.

Met Amberley wat Lindi 24 uur vergesel, hoef sy gelukkig in die toekoms nie bekommerd te wees dat sy weer haar bewussyn sal verloor nie, want dié opgeleide Labrador sal haar waarsku wanneer haar glukose vlak onder vier daal. Sy sal haar waarsku deur aan haar te begin ruik en reg voor haar te sit en haar poot te gee.

Lindi is baie opgewonde om haar nuwe hondemaat te ontmoet. Sy het die eerste keer van dié hondeopleidingsentrum, Honey’s Garden Medical Alert Dogs, op sosiale media te hore gekom. Hierdie nie-winsgewende organisasie in Kaapstad wei hulle toe om honde op te lei vir mense wat spesiale mediese sorg nodig het en sluit honde in vir gehoorgestremdes en mense wat aan epilepsie lei. Die koste vir so ‘n hond kan van R80 000 tot R100 000 strek.

In Junie vlieg Lindi Kaap toe om ‘n twee weke lange induksieprogram saam met Amberley deur te maak. Dan is dit haar beurt om opleiding te kry en te leer hoe om Amberley met genoegsame dissipline te hanteer.

  • Lede van die publiek wat Amberley in Pothefstroom sal teëkom, moet daarvan bewus wees dat sy opgelei is om te werk. Hulle aandag mag nie afgetrek word nie. Moet dus liefs nie vir Amberley vryf of haar uitnooi om te speel nie.

Related Articles

Back to top button