CommunityNews

Ouma en kleinkind aangehou en beroof

VANDERBIJLPARK. - ‘n Ouma en haar sewejarige kleinkind is erg getraumatiseer nadat hulle deur inbrekers by hul huis verras is.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Ouma en haar sewejarige kleinkind is erg getraumatiseer nadat hulle deur inbrekers by hul huis verras is.

Die voorval het op Vrydag 26 Junie net na 10:00 in Bogardstraat, CE 2 in Vanderbijlpark gebeur.

“Ek het iets verdag vermoed toe ons by die huis kom en sien dat van die deure wat altyd gesluit is, oop is,” vertel die ouma, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly. Drie mans het skielik voor hulle gestaan en een van die mans het haar kleinkind gegryp en met ‘n mes gedreig. Hulle het die sleutels van die kluis geëis, maar sy het eers gesê dat sy dit nie het nie.

“Hulle het vir my gesê hulle gaan my kleinkind doodmaak as ek nie die kluis oopmaak nie,” vertel sy.

Die inbrekers het hulle die heeltyd rondgestamp en in die kamer met kabels, dasse en selfs kussingslope vasgebind. Kabels is ook gebruik om hulle monde toe te bind. Die rowers het ‘n jag- en haelgeweer wat in die kluis was gelos en met ringe, oorbelle en ander items gevlug.

“Hulle het selfs my oorringe van my ore afgehaal. Verder het hulle ‘n TV, vleis, biltong, droë wors, ‘n DVD speler en ander kos gevat,” sê sy. Volgens die ouma het hulle vir ‘n lang tyd in die huis vertoef voordat hulle met haar voertuig gevlug het. Die voertuig is later verlate naby een van die woongebiede in Vanderbijlpark gevind.

*Die publiek moet besef dat so iets enige tyd met enige persoon kan gebeur. Wees versigtig wanneer jy enige iets snaaks by die huis opmerk. Moenie net aanneem dat jy of jou gesinslede ‘n deur of venster oopgelos het nie. Wees eerder oorversigtig en kontak die polisie of ‘n familielid en verlaat die perseel. Observeer die perseel tot hulp opdaag. In gevalle waar inbrekers nog in die huis is, kan kleredrag, lengte, letsels ens. baie help om hulle vas te trek.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button