BlogsOpinions

OOR SNORRE EN SIMPTOME…

OOR SNORRE EN SIMPTOME…

Ma het so ‘n rukkie terug gebel, doodsbenoud. Reken, die diaken het ‘n geswelde klier! Nou, voor jy soos ek die ergste verwag en paniekerig wonder waarom Ma so begaan is oor die geswelde klier: relax.  Wat sy eerste moes noem is dat sy Saterdag moet help pannekoeke bak by die laerskool se sportdag omdat die diaken ‘n seer oor het en daarom nie kan help met die pannekoek-aksie nie.

Sien. Hy reken dat al wat sy klier nodig het om oor te sit in virale longontsteking, is die koue trek daar langs die rugbyveld se hoofpaviljoen. Sy dramatiese exit vanaf die pannekoek-komitee bevestig my vermoede dat alle mans daartoe geneig is om snorre en simptome (en soms ook visvangstories) te oordryf.

Kyk nou maar vir die Adams met die onderstreepte neuse: ‘n snor is òf welig en woes òf yl en uhm… grillerig. Kyk nou maar vir Tom Selleck en sy lipmatjie… en loer dan na Chris Chameleon (wat toe soos die res van ons gewone sterflinge, maar ook net ‘n Bles-aanhanger is) se ses gekrulde snorbaarde.

Maar om terug te kom by skete.

Voor ek verder vertel, moet ek jou darem vergewis van die aard van ‘n skeet: ‘n skeet is nie lewensbedrygend nie. ‘n Skeet het nie ‘n herhaal-voorskrif nodig nie. ‘n Skeet kan òf vergeet word òf vertroetel word – amper soos ‘n geweerskoot wat jou in die voet  tref. Jy is straks self verantwoordelik vir die besering (deur oorhaastig die skoot af te vuur voordat die loop in die lug was) of jy was die slagoffer van ‘n dramatiese jagtragedie (waartydens jou vriend met die wingerdgriep se korrel uit was en hy jou vir ‘n slapende bok aangesien het). Eersgenoemde skeet, word liefs vergeet terwyl die laasgenoemde skeet – dis nou jou linkervoet sonder gevoel, vertroetel word.

Hetsy Adam nou ‘n snor of snorbaarde het, ek kan jou verseker hy het ‘n paar skete wat hom al lankal pla. En nee. Dit hou hom nie uit die slaap nie, en dit verhoed hom nie om sy rugby met oorgawe te geniet nie, maar dit sorg vir diep gesprekke om die braaivleisvuur saam met die manne. Tydens die tradisionele reënboogbroodjies-samesyn na ‘n begrafnis. Tussen smoke breaks tydens hospitaal besoektye en, dan meer onlangs ook tydens huisbesoek.

Pa en sy goeie vriend Osie het ook graag skete bepraat, uitprobeer en selfs met tye gedramatiseer vir die nodige effek. Dié twee – wat mekaar as jong vakleerlinge leer ken het, het mos onderskeidelik die oog- en die oorkwaal gehad. Osie kan, tot vandag toe, nie baie goed sien nie en Pa, wel hy kon nie baie goed hoor nie. So tref ons eendag die twee manne – wat terloops altwee ook snorre gehad het, in die kombuis aan besig om die nuwe stoof te bedraad: Pa en Osie sit voor die stoof en pas al om die ander beurt mekaar se brille aan – om beter te sien, verstaan. Toe die TurboFan se oondwaaier aangaan, toe het elkeen weer een van Pa se gehoorapparate in die oor – om beter te hoor, verstaan. Jy sien, die twee was sulke goeie vriende dat hul straks skete uitgeruil het.

So weet ek ook van ‘n liewe oom in Virginia wat na ‘n groot rugoperasie vir ses weke in die bed moes lê. Ten einde laaste het sy vrou hom lê-gemaak in die sonkamer sodat hy darem besoekers kon ontvang. Hy raak hy een middag kaalvoet aan die slaap op die dagbed. Die volgende oomblik ervaar hy ‘n ongelooflike steekpyn aan die regterkant van sy lyf – ‘n hartkramp, jy sien. Net daar besef hy dat sy skete hom ingehaal het, en dat hy die ewigheid sal moet in met ‘n back brace. 

Siestog. Dit was toe al die tyd Flippie, die gesin se African Grey-pappegaai, wat hom aan sy kleintoontjie gebyt het…  Is dit hoe oom Toon (‘n ongenaakbare bynaam na afloop van die gebyt) dié dag beskryf? Nee. Hy begin nog al die jare die storie met die feit dat sy hart reeds van jonkmansdae af ‘n skeet het…

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button