Motoriste is gewaarsku om uiters versigtig te wees vir sogenaamde “blou lig” kapings op die R57, R59 en R82 roetes.
Volgens die polisie word motoriste geteiken deur ‘n onbekende voertuig met blou ligte met twee of meer manlike/vroulike insittendes, geklee in polisie/verkeersuniform.
Hulle wys dan dat die slagoffer van die pad af moet trek en beroof die niksvermoedende motoriste van hul kontant en selfone.
Die polisie waarsku daarom om nie te stop vir enigeen wat jou onder verdagte omstandighede van die pad probeer aftrek met blou ligte of ongemerkte voertuie nie. As jy enigsins twyfel of dit wel verkeers- of polisiebeamptes is wat jou aftrek, kontak die polisie of gaan na jou naaste polisiestasie en rapporteer dit.



