NewsNews

Bussie-eienaar help toe my sussie in die moeilikheid kom

Ek het die afgelope naweek besef dat daar eintlik bitter min mense in ons land is wat nog vir mekaar omgee, maar die wat doen, verdien om geprys te word.

‘n Man met die naam Richard Kwena Modikwa was die enigste persoon wat gestop het om ‘n rooikop meisie langs die snelweg te help nadat sy beroof en byna gekaap is.

My jongste sussie, Elsjé Saayman (20), het Vrydagaand, 3 Mei, langs die N14 afrit naby Forest Hill City in Pretoria by ‘n rooi verkeerslig stilgehou. Twee grypdiewe het haar ruit uitgeslaan en haar selfoon en handsak gevat. Een van die mans het glo aan die bestuurderskant aan die deur geruk. Ons glo hy het haar probeer kaap, maar die deur was gelukkig gesluit.

Elsjé het probeer terugveg en het haar hand in die proses beseer. Sy was so histeries dat sy nie huis toe kon bestuur nie en het haar Opel Corsa op die middelman parkeer en verbygaande motoriste probeer stop sodat sy iemand se selfoon kon leen.

Mense het verby gery, hul ruite afgedraai en gekyk, maar niemand wou stilhou om my sussie te help nie.

Uiteindelik het haar “angel”, Kwena, op die toneel gekom. Hy was met sy bussie op pad van Polokwane na Pretoria toe hy die toneel voor hom sien afspeel. Hy het dadelik besef Elsjé is in die moeilikheid en het stilgehou om haar te help. Hy het sy selfoon vir haar geleen en sy het dadelik my ma gebel.

Elsjé was histeries aan die anderkant van die lyn. My ma het met Kwena ook gepraat en hy het verduidelik waar hulle is en dat hy saam met haar sal wag tot iemand haar kom help. En hy het.

‘n Vriend wat saam met Elsjé in ‘n studentehuis in Raslouw woon en die eienaar van die huis het na die toneel gery. Hulle het vir Elsjé polisiestasie toe geneem om ‘n saak oop te maak.

Kwena het die volgende dag my ma gebel om te hoor hoe dit met haar gaan. Hy het selfs aangebied om vir Elsjé ‘n selfoon te leen totdat sy ‘n nuwe een kry.

Richard Kwena Modikwa, as dit nie vir jou was nie, sou my sussie dalk glad nie Vrydagaand hulp ontvang het nie. Ons gesin bedank jou vir jou barmhartigheid.

Related Articles

Back to top button