LetterOpinions

Vreemde verkiesing lê voor

Die 2019 verkiesing sal as een van die vreemdste politieke gebeurtenisse in die Suid Afrikaanse geskiedenis opgeteken wees.

Eerstens is dit die regerende party, die ANC, wat totaal aangewese is op die gewildheid van sy leier, Cyril Ramaphosa, om aan bewind te bly. Dit is te midde van daaglikse onthullings van enorme korrupsie en mislukkings wat alle regeringsvlakke kenmerk. Die ANC het in der waarheid absoluut niks om aan kiesers te bied nie, maar sal ten spyte daarvan waarskynlik daarin slaag om die mag te behou. Dit skrei teen enige vorm van logika of rasionaliteit in, en sal deur toekomstige geslagte met ongeloof beoordeel word.

Vreemder nog, is die optrede van die amptelike opposisie, die DA. In stede daarvan dat hulle die geleentheid aangryp om op hierdie mislukking van ANC beleid te kapitaliseer, betree hulle die verkiesing sonder ‘n duidelike alternatief vir ANC beleid. Dit is grootliks daaraan te danke dat die DA oor n tydperk grootliks ANC beleid as sy eie aangeneem het, vanaf regstellende aksie, SEB, tot die algemene miskenning van die regte en belange van kultuurgemeenskappe. Hul verkiesingsveldtog word verder gekenmerk deur  ‘n rits teenstrydige uitsprake, nie net deur verskillende faksies in die party nie, maar ook deur individuele leiers.

Mmusi Maimane skryf byvoorbeeld dat die Noordwes Universiteit uitsluitlik in Engels en Tswana behoort te funksioneer, die Potchefstroom kampus ingesluit, (m.a.w. Afrikaans behoort afgeskaf te word). ‘n Week of wat later word kiesers egter getrakteer met n radio advertensie waarin die einste Maimane homself voorstel as ‘n voorste kampvegter vir Afrikaans en ander inheemse tale? (Vreemd voorwaar)  Die DA gaan verder en loods n venynige veldtog op sy koalisie vennote gemik, sonder om die gevolge hiervan op die langtermyn koalisie projek in ag te neem.

Met die DA mite van “vermorste stemme vir kleiner partye” wat nou finaal die nek ingeslaan is, migreer tradisionele DA kiesers nou op grootskaal na partye wat sê wat hulle bedoel, en doen wat hulle sê. Partye soos die VF Plus en IVP ervaar ongekende groei. Die DA het hiervoor suiwer homself te blameer.

Die gevolg van al bogenoemde is dat die ANC vir eers aan bewind bly, met telleurstellende klein groei vir die breër opposisie, en n drasties verkleinde DA.

Positief is egter dat die belange van minderhede, en die beskerming van uiteindelik almal se grondwetlike regte, deur sterk parlementere verteenwoordiging deur die VF Plus en IVP bevorder sal word. Hierdie belange en regte is die afgelope jare teen n kommerwekkende tempo deur die ANC, DA en EFF ondermyn en verwater onder die skyn van politiek korrekte, populisiese beleidsrigtings. Dit was dus hoog tyd vir n regstelling en nuwe balans in die Suid Afrikaanse politiek en openbare diskoers.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button