
Met die chaos by Parys se amptelike munisipale stortingsterrein en die veiligheidsrisiko wat dit vir inwoners inhou om hul vullis by dié terrein te stort, neem al meer inwoners reg in eie hande om vullis op onwettige plekke te stort.
So lyk dit in Oudewerfpark waar Hospitaalweg doodloop. Van babadoeke tot skoensole en boumateriaal. ‘n Aaklige gesig waarin inwoners van die omgewing moet vaskyk.
En solank as wat daar gebrekkige dienslewering is, en inwoners nog minder help om die dorp skoon te hou, sal Parysenaars bly vaskyk in vuil strate, vuil parke en vuil erwe.
Die afgelope naweek het die dorp uit sy nate gebars van besoekers. Toerisme wat die lewensaar van die dorp se voortbestaan is. En weer was dit net ‘n handjievol vrywilligers wat moes loop en skoonmaak waar ander mors, onder meer langs Breë-, Van Coller- en Boomstraat waar heelwat verkeer met die motorfietssaamtrek en greatawakeningssa-optog te wagte was.
Selfs terwyl daar skoongemaak is, het mense gekom om nog vullis te kom “aflaai”.
Is jy ook skuldig?


