NewsNews

Hier word spraak- en taaluitdagings aangespreek

Hier word spraak- en taaluitdagings aangespreek

Breinskanderings en medici was dit eens – hy sou nooit weer kon praat nie. ‘n Jaar se intense terapie na die beroerte – en toe daardie oomblik toe hy vlot kon praat. Dit sal sy nooit vergeet nie.
Dit is wat elke oomblik van terapie die moeite werd maak, gesels Charlotte Haggard, spraak-, taal- en gehoorterapeut in Parys.
Dink maar aan kommunikasie met kinders met outisme, mense wat hakkel, die kommunikasievaardighede wat die briljante fisikus Stephen Hawkin te midde van sy gestremdheid kon baasraak, taalverwarring, stemprobleme en die suig- en slukvermoë van babas as dit kom by borsvoeding. Dit is maar net van die gevalle waarmee ‘n spraak-, taal en gehoorterapeut werk. Van babas tot bejaardes.
Maar wat doen ’n spraak-, taal- en gehoor- terapeut?
Hulle spreek enige kommunikasie en voedingsprobleem aan. By babas word op die baba se suig- en slukvermoë gefokus om te help met voeding na geboorte. By kinders en volwassenes is dit die spraak-, taal en gehoorterapeut wat help met klankuitspraak, taalverwarring, vlotheidsversteurings soos hakkel, stemprobleme, taalontwikkeling en agterstand, alternatiewe kommunikasie soos handgebare of deur middel van ‘n tablet, veral by mense wat nie verbaal kan kommunikeer nie, en by volwassenes ook neurologiese versteurings soos by beroerte of na ‘n ongeluk.
Die belangrikste is vroeë diagnose en voltooiing van terapiesessies, want in meeste gevalle sal jy die terapie-pad saam, vir gemiddeld ses maande of selfs langer moet stap. Ongelukkig is dit soms juis ontkenning van ‘n probleem wat die rede is dat kliënte te laat met terapie begin.
Charlotte vertel dat daar n enorme behoefte in hierdie mediese veld in Parys is. Naas haar kliënte by haar praktyk sien sy ook kliënte by die skole en ouetehuise waar reëlings met haar getref is. Haar grootste passie – om met kinders te werk.
Omdat sy haar eie werksure kan bepaal rondom die behoeftes van haar kliente, is dit ‘n ideale beroepskeuse vir iemand met n gesin.
Boonop is daar die keuse om vir die staat, privaat of selfs in die onderwysdepartement te kan werk. Jy kan jou eie praktyk oopmaak, maar onthou dat jy moet registreer by die Mediese Raad (HPCSA) asook by die BHF vir’n praktyknommer.
Haar raad aan kliënte is juis om altyd seker te maak die terapeut van jou keuse is geregistreer by die mediese raad en het n praktyknommer. As jy vooraf seker maak hiervan kan dit probleme met mediese fondsbetalings uitskakel asook vrae wanneer dit kom by verslae vir verwysings na ander spesialiste
Beroepsvereistes:
* Moet aanpasbaar wees in jou roetine
* Goeie menseverhoudings.
* Kreatief
Frustrasies
Gebrekkige samewerking om tuis oefeninge te doen, en te min fondse wat veroorsaak dat mense nie terapie voltooi nie, is van die grootste uitdagings in die beroep. Tog is daar ook baie gemotiveerde ouers en versorgers wat ‘n waardevolle rol speel in terapie.
Waar studeer jy?
Wat jy in gedagte moet hou is dat universiteite van jou kan verwag dat jy met jou finale universiteitsaansoek eers skaduwerk moet doen by ’n geregistreerde spraak-, taal- en gehoorterapeut.
Die kursus word net by universiteite aangebied soos Stellenbosch, KwaZulu Natal, Tukkies en die Universiteite van Johannesburg en Kaapstad. Keuring vir die B-graad in spraak is baie streng. In 2008 was Charlotte-hulle net 25 eerstejaars wat by Stellenbosch gekeur is waarvan net 13 die finale jaar voltooi het. Na jou 4 jaar studie moet jy ook ‘n intern jaar doen by ‘n staatsinstansie.
Vandag word spraakterapie en oudiologie geskei en het Charlotte eers haar spraakterapie kursus voltooi voordat sy deeltyds aan Tukkies die nagraadse diploma in gehoorapparaat akoestiek voltooi het. Die addisionele kennis kom haar handig te pas in haar beroep.
Meer oor Charlotte:
Charlotte het in Kuilsrivier grootgeword en aan die Stellenboschse Universiteit studeer, min wetend dat sy haar internskap by die Parys-hospitaal sou doen waar sy gebore is. Haar pa, Lourens le Roux, was destyds speurder in Parys.
Na n jaar by Witrand hospitaal in Potchefstroom is sy terug na Parys-hospitaal en het sy ook begin privaat praktiseer.
Haar man, Bernard, is n boer in die distrik en die egpaar het twee kinders met ’n derde bondeltjie vreugde wat op pad is. Dit is juis ‘n beroepsvoorligtingsperiode waar ‘n spraak- en taalterapeut met hulle in graad 11 kom gesels het, wat Charlotte gemotiveer het dat dit die beroep is wat sy wou beoefen.
* Melissa Schoombee (Taljaard), ‘n oudskolier van Hoërskool Parys is tans die spraak- en taalterapeut by Parys Distrik-hospitaal.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button