NewsNews

“Daar sal geen grondgrype wees nie” sê LUR in Noordwes

“Daar sal geen grondgrype wees nie” sê LUR in Noordwes

Die LUR vir landelike, omgewing en landbou-ontwikkeling, Desbo Mohono, het onlangs die regering se standpunt oor grondgrype op ‘n vergadering by die Potchefstroomse Landboukollege herhaal.

Die vergadering was bedoel om wit kommersiële boere aan te spreek, maar slegs twee, Gert Cruywagen en Deon Oosthuizen en belanghebbendes van die departement was teenwoordig.

Mohono het gesê dat as gevolg van  uitsprake tydens die verkiesingstydperk, meeste boere bang vir grondgrype is.
“Die ANC het dit al duidelik gestel dat daar geen grondgrype sal wees nie. Ons gaan werk met die beleide wat ons het. Ons het Artikel 25 van die Grondwet en daarom het ons openbare vergaderings oor grondkwessies gehad. Mense verniet paniekering,” het Mohono gesê.
Volgens haar beplan die regering om grond wat nie gebruik word nie vir onteiening te teiken.

“Sommige van julle eweknieë het grond gesteel. Hoekom waarsku julle nie ander wit boere dat dit wat hulle doen, verkeerd is nie?” het sy gevra.
“Daar is gevalle waar wit boere, wat veronderstel was om mentors te wees, almal weggejaag het en voordeel trek uit die plaas, sonder om die begunstigdes in ag te neem. Daar is egter ook goeie wit boere wat swart boere help. Van hulle het ‘n sekere persentasie van die plase aan plaaswerkers gegee sodat hulle weet dat hulle vir hulself werk, “het sy gesê.

LUR veroordeel plaasmoorde

Mohono het plaasmoorde veroordeel en boere gemaan om saam met haar departement te werk om misdaad op plase te beperk.
“Daar is ook baie diefstal. Ek werk nou saam met die LUR vir veiligheid om die kwessie van veiligheid op plase aan te spreek. Dit is pynlik. Een boer het vir my vertel dat hy diefstal by ‘n polisiestasie gaan rapporteer het. Die beamptes het vir hom gesê dat hy die veediewe moet gaan soek waarna hy hulle moet bel. Die polisie moet ondersoek instel en dié diewe in hegtenis neem, “het sy gesê.
Die LUR sê die regstelsel is ‘n uitdaging. “Mense word in hegtenis neem en die bewyse is daar, maar die verdagtes word nie vervolg nie,” het sy gesê.

Plaaswerkers is mense

Mohono het ook aan die kwessie van mishandeling van plaaswerkers geraak.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling moet na die partytjie toe kom. Plaaswerkers is ook mense. Wanneer mense by die werk is, moet hulle daarvan hou om by die werk te wees en nie bang wees om mishandel te word nie. Soms bly plaaswerkers stil. Ons hoor dikwels eers van die mishandeling wanneer die slagoffers alreeds oorlede is,” het sy gesê.
“Hierdie ontmoeting is ook om daardie probleme op plase aan te spreek. Plaaswerkers help boere en boere  moet help hulle werkers help, hoekom kan hulle nie as mense saamwerk nie?
Plaaswerkers moet nie bang wees om na vore te kom nie. Suid Afrika is ‘n demokratiese land en almal het die reg om regverdig behandel te word,” het sy gesê.
Mohono het ook oor die uitdagings van die boere, soos die droogte, gepraat.

“Jy het die reg om die regering te vra vir hulp. Ek wil nie hê dat boere van die noordwes eilande moet wees nie. Honger en droogte ken geen kleur nie, “het sy gesê.

Hoe kan ons help?

Deon Oosthuizen, ‘n boer van Rysmierbult, het aan die LUR gesê dat hy bereid is om as mentor op te tree.

“As jy die grond beskikbaar stel, kan ek saam met die mense wat ek in diens neem werk. Ek het nie ‘n aandeel in die plaas nodig nie. Ons kan mekaar help. Ek is hier om te bly. Ek wil betrokke raak by die groei van die sektor. Hoe kan ons help? Daar moet meer rolspelers as net die regering wees,” het hy gesê.
Oosthuizen sê hy is besig met besproeiing. Hy boer met mielies, aartappels, suikerbone, saadmielies beeste en skape. Volgens hom het hy die grond van sy pa geërf, wat in 1960 van niks af begin het nie. “Ek het 50 permanente arbeiders, maar tydens oestyd word nog 150 werkers aangestel. Ek maak ook van 200 werkers gebruik om die aartappels te oes. Daar is twee skole op my plaas en ons werk al die tyd saam,” het hy gesê.

Die regering maak dit vir ons moeilik om te boer

Gert Cruywagen, ‘n verteenwoordiger van die Transvaalse Landbouunie van Suid-Afrika (TLU SA), sê alle boere, wit en swart, het dieselfde uitdagings. Onder andere onvoldoende elektrisiteit, water, belasting en paaie wat dit vir boere onmoontlik maak om hul produkte na die mark te vervoer.

“Ons is in staat om voedsel vir die land te produseer, maar die regering ondersteun ons nie. Ek weet nie wat sal gebeur as die kos eendag uitloop nie. Die regering maak dit vir ons moeilik om te boer,” het hy gesê.

Mohono het belowe  werk te maak van die uitdagings wat die boere in die gesig staar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button