NewsNews

‘Kry politici voor stok oor korrupsie’

Een van die grootste kwelpunte wat uit die debat na vore gekom het was die grootskaalse korrupsie en die vraag - hoe “sny” ons dit uit.

“Daar is hoop vir Suid-Afrika. Die oplossings is daar, maar dan moet niemand se hande in die fondse wees nie.” So het die ACDP se Johan Maritz verlede week gesê toe politieke partye om die tafel gesit het vir RSG se verkiesingsdebat wat in Parys gehou is.
Een van die grootste kwelpunte wat uit die debat na vore gekom het was die grootskaalse korrupsie en die vraag – hoe “sny” ons dit uit.
Verteenwoordigers van die ACDP, Cope, die DA en die Vryheidsfront Plus het vir die debat hul sê kon sê, en inwoners se vrae kom beantwoord onder leiding van RSG se Anita Visser wat beklemtoon het dat vanjaar se na-sionale en provinsiale verkiesing van 8 Mei, allerweë beskou kan word as een van die belangrikste verkiesings sedert 1994.
Die partye is verteenwoordig deur Anton Meyer een van die stigterslede van Cope in die Vrystaat, dr. Annelie Lotriet, provinsiale voorsitter van die DA in die Vrystaat, die Vryheidsfront se Tammy Wessels en Johan Maritz van die ACDP. Die ANC en EFF het nie gereageer op uitnodigings tot die debat nie.


Die DA se oplossing om korrupsie uit die regering te hou, is dat politici wat hulle hieraan skuldig maak, aan die pen moet ry, het dr. Lotriet gesê. Sy sê daar word sondebokke van korrupte amptenare gemaak, maar nie van politici wat die besluite maak nie. Daar is voorgestel dat politici wat skuldig bevind word aan korrupsie 15 jaar gevangenisstraf moet kry.
Ook die Vryheidsfront Plus se Tammy Wessels was dit eens dat kaderontplooiing en regstellende aksie die teelaarde vir korrupsie is, maar dat die politieke wil om die “groot visse van korrupsie” te vang, nie daar is nie.
“Maar ons weet daar is korrupsie, die volgende proses is vervolging. Meer howe, bevriesing van bates. Daar is oplossings, maar die regering is die probleem,” het die ACDP se Johan Maritz geredeneer. En die stelling is ewe raakgevat met Cope se Anton Meyer wat gesê het dat “mag verantwoordelikheid is, maar dat mag ook vergryping kan wees”.
Ander argumente wat gevoer is het ingesluit die geweldige probleem met behuising en werkloosheid in die provinsie, en die rimpeleffek wat korrupsie ook hierop het.
“Dit is ‘n skande dat mense na 25 jaar steeds in informele nedersettings moet bly en hul menswaardigheid so aangetas word. Die rede -grotendeels korrupsie,” het die DA geargumenteer toe gesê is dat mense vir jare moet wag vir HOP behuising.” Sommige so lank as 20 jaar.
Sy het gesê die DA wil sien dat mense eerder in staat gestel word om self huise te kan bou.
Hiermee stem die Vryheidsfront Plus saam en het Tammy Wessels uitgewys dat R631 miljoen in 2012 betaal is vir huise waarvan nie een gebou is nie en die geld weg is. Sy sê 15 000 titelaktes is ook nie gegee nie.
Volgens Wessels staan die Vryheidsfront Plus vir ‘n gesonde ekonomie met gelyke geleenthede waar minder mense van die staat afhanklik moet wees vir ‘n inkomste soos wat tans die geval is met 17 miljoen wat staatstoelaes ontvang.
Dan was daar die kwessie van die swak gehalte van HOP behuising wat deur Anton Meyer van Cope uitgewys is.
Johan Maritz het vir die ACDP geargumenteer dat behuising gepolitiseerd geraak het. “As korrupsie nie eers die hok geslaan word nie, sal die kwessie van behuising nie opgelos word nie.” Hy sê die antwoord is nie huise vir almal nie, maar ekonomiese groei.
Die eintlike vraag – hoe kan die skip omgekeer word?
Die DA se antwoord was dat dit moontik is, maar nie met die huidige regering nie, en dat dit tyd sal neem.
Die Vryheidsfront Plus sê dat nodige instandhouding van infrastuktuur nie die afgelope 25 jaar onder die ANC-regering gedoen is nie. Daar is beklemtoon dat met regstellende aksie en kaderontplooiing, die regering van kundigheid ontneem word.
Die ACDP meen daar is baie oplossings, maar dat verandering net kan kom as mense begin standpunt inneem by die stembus.
En daarmee stem Cope saam – dat die oplossings daar is as die regte besluite geneem word.
Ander kwessies wat ook aangeraak was, het grondhervorming en die kwessie van stemme vir ‘n kleiner party ingesluit.
Cope sê die party het niks teen herverdeling van grond nie, maar dat vergryping ‘n ander ding is. Die ACDP is daarteen en voel dat net eise wat reeds ingedien is, afgehandel moet word. Dan moet by die begin begin word met ‘n grondoudit. Die DA sê grondhervorming is noodsaaklik maar nie sonder vergoeding nie. Ook dat die regering niks daaromtrent gedoen het die afgelope 25 jaar nie, en dat dit ‘n mite is dat landbou niks hieraan doen nie. “Dit is eerder ‘n geval van die regering wat hom doof hou, is gesê.”

Die Vryheidsfront Plus sê grondhervorming en diskriminasie is nie die pad vorentoe nie. Daarom is ook die party gekant teen onteiening sonder vergoeding.

Related Articles

Back to top button