NewsNews

Bring musiek terug in ons skole

“Ek glo met my hele hart dat elke kind die geleentheid moet hê om ‘n instrument te leer speel. Ons kinders sing nie meer volkswysies nie, ongeag hul huistaal. So verloor ons kinders hul musiekskat en eie kultuur.” So gesels Erna Rademan wat as nasionale president van die SAVMO (Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers) met sy …

“Ek glo met my hele hart dat elke kind die geleentheid moet hê om ‘n instrument te leer speel. Ons kinders sing nie meer volkswysies nie, ongeag hul huistaal. So verloor ons kinders hul musiekskat en eie kultuur.”
So gesels Erna Rademan wat as nasionale president van die SAVMO (Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers) met sy 1108 lede gekies is.
Haar groot doelwit – om weer musiekposte by laer- en hoërskole terug te bring. Vroeër was musiekonderwysposte uitgesluit van die postevoorsiening van voormalige model C-skole, maar dit is met die nuwe bedeling afgeskaf, grotendeels weens geldelike oorweging.
Vandag het ongelooflik min skole nog musiekonderwysers, en is die voorreg meestal net baie welvarende skole beskore as beheerliggaamposte, sê Erna.
Gekwalifiseerde musiekonderwysers se primêre taak was die afrigting van skoolkore, om musieklesse aan skoolleerlinge te gee, en die sangklas te behartig afgesien van die musiekkomponent van Skeppende Kunste wat as deel van die vak Lewensoriëntering aangebied word.
Erna self was vir jare musiekonderwyseres by die Chris van Niekerk Gekombineerde skool in Vredefort waar sy twee kore afgerig het, en uitstaande prestasies behaal het met haar bottelorkes. Daarbenewens het sy jaarliks 25 leerlinge onderrig in blokfluit, klavier en sang.
Sy vertel dat die bottelorkes juis uit nood gebore is omdat so baie kinders daardie jare musiek wou beoefen, maar dat die skool nie genoeg instrumente gehad het nie.
“Vandag kan musiekonderwysers kinders die geleentheid bied om bekostigbaar blootgestel te word aan die ongelooflike voorreg van musiekonderrig om instrumente te bespeel.”
“Dit is oor en oor bewys dat musiek deure oopmaak vir kinders. Jy moet ‘n liefde vir musiek van jongs af kweek. Musiek leer jou fokus. Juis daarom is die werk wat musiekonderwysers doen so ongelooflik belangrik. Ons moet kinders grootmaak wat die kunste kan waardeer en ondersteun,” sê Erna wat praat uit jare se ervaring.
Vandag is sy steeds saam met Anina de Villiers betrokke by musiekonderrig in blokfluit en klavier by die Bambi Preprimary School.
Erna het in Uitenhage in die Oos-Kaap grootgeword en aan die Hoërskool Brandwag gematrikuleer. ‘n Klein plattelandse skool wat vandag nog musiek tot op matriekvlak aanbied.
Hier is haar eie liefde vir musiek gekweek, al kon nie een van haar ouers ‘n instrument bespeel nie. Tog het haar pa altyd gesorg dat daar musiekinstrumente in die huis was, en is Erna en twee van haar drie susters almal orreliste.
Na skool het Erna B.Mus (Ed) op Stellenbosch gaan studeer met Klavier en Skoolmusiek as hoofvakke. Haar onderwysloopbaan as musiekonderwyseres het haar mettertyd na Vredefort gebring waar sy van 1993 tot 2005 skoolgehou het. In 2005 het sy vakadviseur vir Skeppende Kunste in die Senior Fase in die Fezile Dabi-streek geword nadat sy as Beste Laerskoolonderwyser in die Noord-Vrystaat aangewys is.
In 2015 keer sy terug na Chris van Niekerk as skoolhoof tot 2018. Sedert 2019 is sy by Gaudium Artes skool vir die kunste in Parys betrokke,
Van die sanggroepe en kore wat sy oor jare op die been gebring het, sluit in Bourreé, Mainly Men, en ook van 1998 saam met Marli Kruger, die Deo Gloria-koor wat tans 50 lede het en deurlopend aktief is. Saam het sy en Marli daarin kon slaag om mense Vredefort te laat vereenselwig met klassieke musiek en uitstaande konserte wat gereeld in hierdie plattelandse dorp aangebied word.
Vir haar is die grootste lekkerte om saam musiek te kan maak.
Erna is van haar 14de jaar aflosorrelis en speel al die afgelope 33 jaar die orrel in die NG gemeente Vredefort. Daarbenewens bespeel sy ook klavier, tjello en blokfluit en sorg sy steeds dat die ATKV-koorfees jaarliks in Vredefort gehou word.
Erna was van 2011 tot 2015 vise-president van SAVMO vir die Vrystaat/Noord-Kaap.
Meer oor SAVMO:
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers is die oudste profes-sionele musiekvereniging in Suid-Afrika. Sedert sy ontstaan verteenwoordig die vereniging musiekopvoeders by universiteite, kolleges, skole, musieksentrums en in die private praktyk. Die vereniging is musiekonderwysers se enigste mondstuk. “Elke enkele musiekonderwyser in die land, behoort by die vereniging aan te sluit”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button