
‘n Boodskap wat tans op Whatsapp verskyn raai gebruikers aan om Whatsapp Gold af te laai.
Volgens die boodskap is Whatsapp Gold ‘n nuwe opgedateerde weergawe van die boodskapdiens. Die boodskappe word al sedert 2016 versprei, maar mense moet steeds dié soort boodskap ignoreer. Wanneer op die skakel in die boodskap geklik word, word ‘n virus op jou selfoon afgelaai.
In 2016 is boodskappe na mense se foon gestuur en hulle is aangemoedig om die opdatering af te laai. WhatsApp-opdaterings word egter deur die program self gedoen.
WhatsApp het voorheen bevestig dat WhatsApp Gold ‘n slenter was.
“Plus het geen verhouding met WhatsApp nie en ons ondersteun nie WhatsApp Plus of Gold nie,” het direkteure van Whatsapp in ‘n verklaring gesê.
Mense word gewaarsku teen enige onbekende skakels wat op Whatsapp of enige ander boodskapdiens ontvang word.




