
Sakelui is gefrustreerd. Motoriste kners op hul tande vir die verkeerschaos by die kruising van Loop- en Waterstraat en geen aanduiding van ’n alternatiewe roete wat gevolg moet word nie.
Maar nee sê plaaslike kontrakteur, Peter Mqhaisa (foto) van Twin Brothers Construction. Anders as die herstelwerk wat in die verlede hier deur die munisipaliteit gedoen is, sal sy maatskappy sorg dat die werk reg gedoen word, met hoë digtheid pype. Peter sê die probleem met die ewige pyplek is te wyte aan die swaar verkeer wat die kruising dra en omdat die pype wat voorheen gebruik is, nie die las kon dra nie. Daarom word die pyp nou met gegalvaniseerde pyp versterk.

Hy beoog om die hele naweek te werk as die weer dit toelaat, om seker te maak die pad is behoorlik en reg herstel voor die Paasnaweek wanneer talle besoekers in die dorp verwag word. Peter sê hy waarborg sy maatskappy se werk en maak ook sommer die rioollek reg wat hy gesien het toe hy met die herstelwerk begin het.



