
Skaars ‘n week nadat die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, Suid-Afrikaners gerusgestel het oor beurkragvooruitsigte vir die winter wat tot einde Augustus nooit meer as fase 1 sal wees nie, en ook nie meer as 26 dae vir die hele winter nie, brand Eskom se liggie weer flou danksy die skielike koue.
Vandag het Eskom gewaarsku dat die kragvoorsieningsnetwerk stram is weens koue weer plek-plek en verhoogde elektrisiteitsgebruik as gevolg hiervan. Verbruikers is daarom gevra om krag spaarsaam te gebruik.
Maar terwyl weer gewaarsku word oor beurtkrag, sê Eskom ook dat sy tegniese hersieningspan ‘n “betroubare onderhoudsplan” in plek het wat hul vertroue gee dat hulle deur die winter sal kom met geen of beperkte beurtkrag, maar dat die kragreus bewus bly van die potensiaal van risiko’s op ‘n stram kragvoorsieningstelsel.
Eskom belowe hy sal verbruikers op hoogte hou van die stand van die netwerk.



