BlogsOpinions

VERTEL MY MEER VAN JOUSELF…

En seker die belangrikste: dat ek dié job baie nodig het as ek ook eendag ‘n Harley wil hoor brul…

Liewe Persoon

Ek het dié vraag verwag. Ek bedoel, wat is ‘n werksonderhoud nou sonder die ‘vertel-my-meer-van-jouself’- wals? En jy ken vir my. As dit by dans kom het ek pastorie voete…

Jy sien, dié vraag sit my skuins. Bedoel hulle nou my persoonlike lewe, my werksetiek of ‘n gedwonge kombinasie van die twee? Hulle vra mos nooit spesifiek nie, nee. So waar begin jy? Of nog erger: waar trek jy die lyn tussen have to know en need to know?  Dink ‘n bietjie daaroor…

As jy mooi dink, raak dié vraag al hoe gevaarliker, hoe ouer jy word.

As (onervare) jongmens aan die begin van jou loopbaan kan niemand jou mos iets leer nie! Dan loop jy mos ast’ware met akademiese geleerdheid as ‘n superhero mantel rond – reg om diesulkes (soos byvoorbeeld 30-jariges met meer praktiese ondervinding) op die smal weg van toepaslike teoreë en wetenskapsleer te hou.  In jou dertigs is die vuur en passie steeds daar, maar jy het die wysheid (en kalmte) van lewenservaring. Teen jou veertigs het jy al ‘n rondte of twee in die kryt van val-en-opstaan gehad… en voel jy soos Rocky in daai scenewaar hy ‘n gevriesde karkas laat les opsê. Op vyftig bid jy vir pouse of oorweeg jy drastiese veranderinge: miskien koop jy ‘n Harley Davidson Fat Boy op skuld. Miskien vat jy sak en pak die pad Nieu Bethesda toe om daar ‘n organiese kaktus-boerdery te begin. Miskien koop jy ‘n vlugkaartjie Meksiko toe – voor daardie staatsman met die Piz Buin aanspry-tan en die yl haartjies – begin om aan sy muur te bou.

So. Om terug te kom na daardie vraag.

Maak dit regtig saak of ek meer van die Lord of the Rings-movie gehou het, as van die boek? Is dit belangrik om my vrees vir warm skoene en tweedehandse matrasse met ‘n voornemende werkgewer te deel?  Of wat van my imposante versameling geel plastiek eendjies? O, en dan moet ek bieg: ek het ‘n morele probleem met platters wat beide hoenderboudjies én hardgekookte eiers aan honger kantoorpersoneel bied. Ek loooove rooi skoene. Ek verpes onderarm-aanrol advertensies (sies!) net soveel as wasgoedpoeier foefies (niks anders as propoganda!).

Nee. Ek is nie getroud nie.
Ja. Dit is my keuse.

En dan is daar nog familiebome (en -bomme). Berugte en gerugte oor vriende. Die het-jy-gehoor-van-stories en die lavish detail oor ‘n sekere aardrykskunde toets in standerd 9, koshuispartytjies in jou eerstejaar en twyfelagtige mode keuses (al wat saak maak is dat ek aangeneem en voorgestel is in die Kerk, en nié dat ek ‘n paar spierwit patent leatherplatformskoene aangehad het nie). Enough said.

Wat ek eintlik vir mnr. Werkgewer wil sê is dat ek meer is as my grille en geite. Dat ek elke dag my bes probeer. Dat ek, soos my Ouma Sielie gesê het, sindelik is. Dat ek in technicolordroom. Dat ek bereid is om te leer.

En seker die belangrikste: dat ek dié job baie nodig het as ek ook eendag ‘n Harley wil hoor brul…

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button