
Vals beriggewing op ‘n sosiale media publikasie oor protesaksie in Parys wat kwansuis chaos veroorsaak het en gelei het dat paaie gesluit is, het vandag, 26 Maart, groot paniek onder veral motoriste gesaai. Mense van sover as die Kaap en Johannesburg het dadelik begin navraag doen oor die toeganklikheid van paaie, en is die vals berig wyd gedeel.
Die feite in die berig was ver van die waarheid en is intussen van sosiale media verwyder.
Wat is die korrekte feite:
Inwoners van Tumahole het vanoggend wel ‘n protesaksie gehad het waarmee hul erwe van die Ngwathe munisipaliteit ge-eis het.
‘n Groep mense het vroeg vanoggend in die Winnie en Mbeki woonbuurte in Tumahole bymekaar gekom vanwaar hulle na die Master Nakedi binnenshuise sportsentrum beweeg het waar lyste opgesit was van mense wat erwe sou ontvang.
By die sportsentrum is daar met ANC-lede en raadslede samesprekings gehou.
Die Ngwathe burgemeester, me Joey Mochela, Ngwathe Munisipale Bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, en van die munisipale direkteure het die samesprekings bygewoon.
Die burgemeester het met die groep gepraat en is onder meer diensleweringskwessies uitgelig.
Teen 12:00 vanmiddag het die groep verdaag maar kon daar toe nog nie tot ‘n vergelyk gekom word nie.
Daar was egter geen gewelddadige voorvalle nie, en geen paaie versper nie.
Die polisie het deurentyd ‘n wakende oog gehou.

Die les om te leer:
Wees baie versigtig om nie alles te glo wat jy op sosiale media lees nie. Fopnuus word maklik en vinnig versprei. Maak gebruik van nuusbronne wat ‘n bewese rekord het van akkurate beriggewing. Maak ook liewer seker van die egtheid van berigte voordat jy nuus deel, want vals beriggewing kan maklik paniek saai.



