News

Dit is hulle wat ‘n gholfbaan ‘groen’ hou

Dit is hulle wat ‘n gholfbaan ‘groen’ hou

Vir menige gholfspeler is die Vaal de Grace-gholfbaan net buite Parys ‘n bekende naam. Van beroepsgholfspelers tot sakelui, vroue en selfs kinders, het al hier afgeslaan. Parysenaar Johan Knell, was ten nouste betrokke met die aanvanklike konstruksie van die baan toe hy vir die Nick Price-groep gewerk het.
Vandag is Johan gholfbaan superintendent by die Glenvista Country Club in Johannesburg. Vroeër sou jy hom ‘n ‘greenkeeper’ noem. In sy dagtaak is hy van loodgieter tot elektrisiën, motorwerktuigkundige, onderwyser, boekhouer en selfs boer op die gholfbaan, want “jy groei gras, werk met grond, gee kunsmis, chemikalieë en baie meer. Dit bly ’n uitdaging. Beslis meer as gras sny of gholf speel. Dit is harde werk, passie, opoffering en toewyding.” ‘n Ongelooflike beroep met werksvreugde wat Johan die afgelope 12 jaar ervaar deur “Turfgrass Management & Maintenance”.
Sy tipiese dag:
Johan se dag begin met koffie in die hand, in die vroeë oggendure met sonsopkoms wanneer hy die werkers hul instruksies gee om die baan op ’n hoë standaard voor te berei. Soos wat almal begin masjiene deurgaan en aanskakel, beweeg hy uit op die baan om elke ‘green’ te inspekteer. Dit word elke oggend en middag gedoen, want daar is verskillende swamme, insekte of temperatuur-verwante probleme wat gedurende die aand of bedags kan voorkom. So bepaal hy of enige swamdoders, insekdoders ensovoorts gespuit moet word. Na ’n rondte deur die hele baan, is dit kantoorwerk. Van bestellings vir onderdele tot produkte soos kunsmis, chemikalieë, sand en meer. Daar moet rekord gehou word van masjien-ure vir dienste, waterverbruik vir besproeiing en selfs grondtemperature en vog. Daar is daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse beplanning volgens dag-tot-dag omstandighede en seisoene. Daaglikse weervoorspellings moet nagegaan word, meer as een keer per dag, want dit bepaal jou besproeiing vir die aand. Die besproeiingsisteem moet nagegaan word vir pyplynbreuke, foutiewe sproeiers en/of probleme met pompe. Tussendeur moet Johan toesig hou oor die werkers. Dit is ‘n daaglikse roetine, maar moenie ‘n fout maak nie – daar is uitdagings. Van onvoorspelbare weerstoestande tot swamme, die speeloppervlak van die ‘greens’, masjiene wat breek, kragonderbrekings en selfs waterkwaliteit.
Vaardighede:
Om ‘n gholfbaan superintendent te word benodig jy ‘n NQF Vlak 4 kwalifikasie in ‘Turfgrass Management & Maintenance’, of ’n B.Sc. Agric kwalifikasie met die fokus op tuinbou. B.Sc.Agric kan aan UNISA, TUKS of selfs Kovsies studeer word en is wiskunde, fisiese wetenskap en biologie as vakke op skool ‘n sterk aanbeveling in die industrie, sê Johan, maar universiteite se vereistes verskil.
Meer inligting oor waar jy jou NQF Vlak 4 kwalifikasie kan behaal, kan gekry word by die ‘Turfgrass Managers Association’ (TGMA). Sou jy inskryf vir ‘n NQF Vlak 4 kwalifikasie, sal jy nagenoeg 10 modules moet voltooi waaroor jy eksamen skryf en praktiese take moet inhandig. Deur die jare het Johan seminare bygewoon om sy kennis en ervaring te verbreed en is hy tans nog besig met studies deur TGMA. Sodra jy die nodige studies voltooi het en genoegsame ondervinding het, kan jy selfs in die buiteland aansoek doen vir poste in dié veld.
Vereistes:
* ‘n Passie vir sport, veral gholf
* Lief vir die natuur en buitelewe. Jy leer elke dag iets nuuts, daarom is dit belangrik dat jy belangstel in elke faset van die natuur wat ook jou werksomgewing beïnvloed.
* Moet onder druk kan werk en kan dink op jou voete om uitdagings te hanteer.
* Bereid wees om fleksi-ure te werk.
* Nie bang wees om vuil of nat te word nie.
* Sterk leiereienskappe hê en goeie menseverhoudings.
* Betroubaar
* Hardwerkend
* Aanpasbare persoonlikheid
* Kreatief en soms bereid om met die minimum hulpmiddels oplossings te soek vir uitdagings.
Meer oor Johan:
Johan het in Parys grootgeword – van Blikoortjies tot matriek by Hoërskool Parys. Op die sportveld was hy ‘n kranige rugby-, maar ook muurbalspeler. Van 1998-2000 het hy in die geel trui van Hoërskool Parys se eerste rugbyspan op die veld gedraf. Dorp klubrugby het hy ook gespeel en selfs die Griffons-span verteenwoordig in 2001. Na skool het hy by ‘n konstruksiemaatskappy in Parys begin werk, voor hy uiteindelik sy roeping op die gholfbaan gekry het met ‘n geleentheid om vir die Nick Price-groep te werk tydens die konstruksie van die Vaal de Grace-baan. In 2008 met die opening van die Vaal de Grace-baan, was hy assistent superintendent, en binne ‘n jaar hoofsuperintendent. In 2010 verhuis hy na Bloemfontein om die sokkervelde vir die Wêreldbeker te onderhou sowel as die Vrystaatse Universiteit se sportvelde. Einde 2010 het die onderhoud van die Wits Universiteit se sportvelde sy verantwoordelikheid geword. September 2011 is Johan egter terug gholfbaan toe, eers by die Eye of Africa Golf & Leisure Estate, en vandag by die Glenvista Country Club.
Sy mylpale:
Best new course Vaal de Grace 2009, Sun-shine toernooi 2009 Vaal de Grace, SALI bronze award for Landscape and Turf maintenance, Eye of Africa 2014, Golf course superintendent of the month, Complete Golfer tydskrif 2014, PGA USA Toernooi TPC Sawgrass Jacksonville, Florida 2013. Sunshine kwalifiseringstoernooi 2017, 2018 Glenvista Country Club, en is hy ook tans voorsitter van die Turfgrass Managers Association in Gauteng (TGMA) 2018/2019.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button