NewsNews

Regter sê nee vir staat se aansoek

Verhoor afgehandel.

Van die staat se pogings om sy saak teen die 6 mans van Parys wat tereg staan op 2 klagte van moord, weer te heropen, het vandag (Vrydag 8 Maart) niks van gekom nie.
Regter Corné van Zyl het die aansoek van die hand gewys en is die verhoor nou, na meer as 3 jaar uiteindelik afgehandel, maar uitspraak sal eers die week van 27 tot 31 Mei in die Hoë Hof in Parys deur regter Van Zyl gegee word.
Die staat se saak teen Boeta v.d. Westhuizen, sy seun Loedie, en skoonseun Miela Jansen van Vuuren, asook kapt. Henk Prinsloo, en Anton Loggenberg en sy seun Cor, spruit uit ‘n voorval op 6 Januarie 2016 toe Samuel Tjixa en Simon Jubeba volgens die staat se getuienis sodanig aangerand is op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het.
Beide die staat en die verdediging het vroeër al hul sake gesluit en sou net die slotbetoë vandeesweek gehoor word.
Uit die slotargumente het daar egter weer ernstige vrae ontstaan oor die verskille tussen, en leemtes in die kliniese verslae, nadoodse verslag en foto’s wat as bewysstukke by die hof ingedien is, veral na aanleiding van prof. Jan Botha, ‘n afgetrede forensiese patoloog se ekspert getuienis vir die verdediging vroeër.
Dit het  ook weer opnuut die kwessie  rondom die identiteit van  een van die lyke na vore gebring, veral met gebrek aan sogenaamde kettinggetuienis van onder meer die vervoer van die oorledenes.
Dié kwessies het regter Corné van Zyl genoop om ‘n familielid van elk van die oorledenes na die getuiebank te roep.
Donderdag 7 Maart het Selina Tangaja haar susterskind, Simon (Seun) Jubeba, wat sy grootgemaak het,  op die foto’s uitgeken en vertel hoedat sy hom aan sy voete by die lykshuis in Bloemfontein uitgeken het. Sy kon ook Tjixa op die foto’s uitken.
‘n Baie emosionele Ruth Qokotha, die ma van wyle Samuel Tjixa, het Vrydag 8 Maart, ook haar seun herken van die foto’s wat as bewysstukke by die hof ingedien is, en het bevestig dat sy Jubeba geken het en hom ook op die foto’s herken.
Sy was sigbaar ontsteld om getuienis te lewer en het gesê dat dit “ou wonde vir haar oopkrap.”
Regter Van Zyl het egter die nodigheid daarvan dat sy moet getuig in belang van geregtigheid, aan haar verduidelik.
Qokotha het in antwoord op regter Van Zyl se vrae gesê dat sy nie die geleentheid gehad het om haar seun in die hospitaal te besoek nie. Hy is die Woensdag dood en sy is by die hospitaal meegedeel dat sy liggaam na die Sasolburgse lykshuis geneem is.
Daarna het sy gehoor die liggaam is na n Bloemfonteinse lykshuis geneem en kon sy die liggaam eers n week later kry om te begrawe. Sy het getuig dat sy hom aan sy gesig uitgeken het en dat hy toegemaak was in plastiek.
Sy kon egter nie sê wie haar seun van Parys na Sasolburg, of van Sasolburg na Bloemfonteim vervoer het nie.
Tjixa is in die Parys-hospitaal oorlede, en Jubeba in die Pelenomi-hospitaal.
Van Zyl het kort voordat die hof verdaag het, en sy die staat se aansoek van die hand gewys het om dokumente in te handig van verklarings van beamptes wat teenwoordig was toe die liggame uitgeken is, gesê dat die onus op die staat se skouers was vir sogenaamde kettinggetuienis van die identiteit van die oorledenes, van wanneer die beserings toegedien is, tot by die nadoodse ondersoek, insluitend tyd van dood. “Die staat moes kon bewys dat dat daar geen verdere beserings aan die liggame was nie, maar dit is nie gedoen nie,” het regter Van Zyl gesê.
Die verdediging op sy beurt het die staat se aansoek beskryf as ‘n poging om nog ‘n hap van die kersie te kry. “Ons weet nou waar die skoen druk.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button