News

Waarom Vaalweekblad daardie video geplaas (en weer verwyder) het

Waarom Vaalweekblad daardie video geplaas (en weer verwyder) het

Na aanleiding van klagtes oor Vaalweekblad se plasing van ‘n gesensorde video wat Vrydag 1 Februarie op die  toneel van die fratsongeluk by Hoërskool Driehoek geneem is, verduidelik Vaalweekblad die rasionaal en redes waarom ons dit aanvanklik geplaas het.

Eerstens kan ons ons lesers verseker dat ‘n besluit om sulke grafiese materiaal te publiseer, nooit ligtelik geneem word nie. Dit word gewoonlik baie deeglik oorweeg nadat kennersmenings ingewin is.

In die geval van die spesifieke video waar van die slagoffers nog onder die betonblok vasgekeer was terwyl omstanders probeer het om die blad te lig, het Vaalweekblad aanvanklik besluit om dit in geen stadium ooit te publiseer nie. Drie dae na die voorval het van die ouers van beseerde kinders gevra of Vaalweekblad bereid sou wees om die oggend se heel eerste video-opnames op ‘n individuele basis aan hulle te verskaf omdat hulle graag wou weet, of beter wou verstaan wat presies in daardie eerste minute na die ramp met hul kinders gebeur het. Ons wou dit glad nie oorweeg om die materiaal uit te gee nie – nie eers in geredigeerde formaat nie omdat ons geen beheer daaroor sou hê as dit dalk onverantwoordelik op sosiale media versprei sou word nie.

Nadat paramedici en ander nooddienspersoneel wat op die toneel diens gedoen het, Vaalweekblad ook versoek het om die materiaal te sien om hulle te help om die gebeure te verwerk, het ons besef dat daar werklik ‘n behoefte by baie mense was – nie uit ‘n sensasie-oogpunt nie, maar net om beter sin uit alles te maak.

Vaalweekblad het ‘n gerespekteerde sielkundige se mening ingewin oor die wenslikheid daarvan om die video in ‘n gesensorde formaat op sosiale media beskikbaar te stel.

Volgens die sielkundige kan materiaal soos dié, mits dit ‘n baie groot en duidelike waarskuwing bevat dat sensitiewe mense nie daarna moet kyk nie, baie waardevol wees in die behandeling van post traumatiese stres. Diegene wat deur die ongeluk geraak is – leerlinge, ouers, nooddienspersoneel sowel as die algemene publiek – wat nie gereed voel om daarna te kyk nie, is dan gewaarsku om daarby verby te blaai, het sy gesê.

“Wat met hierdie mense gebeur het, raak hulle ten nouste. Veral ouers wat kinders aan die dood afgestaan het, en kinders wat beseer is en hul ouers wat graag wil weet wat met hul geliefdes gebeur het, het die reg om te weet – mits hulle so ‘n behoefte het. Mense verwerk trauma verskillend. Sommige wil alles weet. Ander verkies om so min as moontlik te weet. Moet net nie dié wat graag wil weet, die reg ontneem deur dit te weier nie,” was die sielkundige se mening.

Omdat alles op ‘n ongelukstoneel vinniger gebeur as wat ‘n mens se brein dit kan prosesseer, is daar gapings in ‘n geaffekteerde persoon se “trauma-geheue”, het sy verduidelik. Dit kan gebeur dat van die getraumatiseerde kinders die gapings self met hul verbeelding invul, wat tot geheue-foute en drogbeelde kan lei en later ernstige post traumatiese stres en angs kan veroorsaak. ‘n Gesensorde video wat met empatie saamgestel is maar steeds die werklike emosie en gebeure wys, kan mense help om hul geheue-gapings met werklike feite in te vul sodat traumaberading meer suksesvol gedoen kan word en emosionele heling vinniger kan vorder, sê sy.

“‘n Gesensorde video gee aan die geaffekteerdes wat dit graag wil sien, ‘n geleentheid om die gebeure op ‘n makliker verteerbare manier te herleef as om dadelik na die werklike ongelukstoneel terug te keer. Die voordeel is dat hulle ‘n video kan stop as hulle nie verder wil kyk nie. Die ideaal is natuurlik dat die geaffekteerdes deeglike traumaberading moet kry en saam met opgeleide begeleiers deur sulke video’s moet werk, totdat hulle by ‘n punt kom waar hulle gemaklik voel om na die werklike traumatoneel teruggeneem te word sonder om ondraaglike angs te ervaar.”

Op grond van dié inligting het Vaalweekblad besluit om die gesensorde video 5 dae na die ramp op ‘n verantwoordelike manier toeganklik vir die publiek te maak.

* Vaalweekblad vertrou dat mense wat ons oor die plasing van die video gekritiseer het, ons besluit nou beter sal verstaan. Die video is met groot sorg en baie empatie deur Vaalweekblad se digitale redakteur, Jannie du Plessis, saamgestel, maar ons het dit op versoek van die Persombudsman verwyder nadat hy verskeie klagtes daaroor ontvang het en Vaalweekblad ook drie sterkbewoorde briewe van kritiek daaroor van lesers af gekry het. Vaalweekblad wil graag bekendstaan as ‘n verantwoordelike publikasie wat NOOIT bykomende smart wil veroorsaak vir mense wat rou of reeds deur ‘n krisis gaan nie. Om dié rede bied ons ons opregte en onvoorwaardelike verskoning vir die publikasie van die video aan al die geaffekteerdes wat daardeur ontstel is.

* Vaalweekblad sal die geredigeerde video verder slegs aan sielkundiges of geregistreerde beraders met kennis van traumabegeleiding verskaf as hulle meen dat dit van enige waarde in die behandeling van hul traumapasiënte sal wees. Stuur ‘n SMS na Jannie du Plessis by 082 653 2273 om meer hieroor uit te vind. ‘n DVD-afdruk van die video  is ook op versoek aan die polisie verskaf, met ‘n duidelike ooreenkoms dat dit slegs vir ondersoekdoeleindes gebruik sal word en nooit op sosiale media of ander openbare media gedeel sal word nie. –Vaalweekbladspan.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button