Die oop erf oorkant Parys Spar langs Parys se hoofstraat, waar dikwels baie rommel lê, is nie net vir verbygangers en besoekers ‘n seer oog nie, maar ook vir inwoners van die dorp.
Frik van Rensburg, voorsitter van die Parys Senior Klub, het egter met die gedagte vorendag gekom om dié stuk grond skoon te maak. Maandag en Dinsdag (25 en 26 Februarie) is fluks gewoel om die laaste rommel en vullis te verwyder.
Frik se oogmerk is om ‘n “boeremark” vir die gemeenskap daar te hou (elke laaste en tweede Saterdag van die maand waarvan die wins geskenk sal word aan die Kosmos Senior Klub van Parys. Die mark sal bekend staan as die Koepel Gemeenskapsmark.
Die alternatiewe naweke wanneer daar nie mark is nie, sal dit as ‘n parkeerterrein gebruik word vir besoekers aan Parys. Teen ‘n minimale fooi kan ons gaste met geruste harte daar parkeer terwyl wagte omsien na hul motors!
In ‘n poging om vullisstorting en mense wat op die terrein oornag, te keer is daar besluit om ‘n heining om hierdie terrein op te rig. Ongelukkig benodig Frik en sy span fondse vir hierdie heining.
Alle besighede en/of individue wat kan help om hierdie heining ‘n realiteit te maak, se hulp is dringend nodig. Skenkers se advertensie borde sal op die omheining aangebring word.
Baie dankie aan Frik en die span skoonmakers, tannie Corrie vir die yskoue koeldranke en die ondersteuning van Parysenaars!
Skenkings kan elektronies inbetaal word by
Kosmos Senior Klub
FNB Parys
Rekening Nommer: 627 458 12942
Tak Kode: 230736
Of kontak Frik by 082 439 9482 of fvr@icon.co.za