BlogsOpinions

SPONSKOEK

Om te dink dat ‘n sponskoek, ‘n koeklus nou so (kwaadwillig) kan bederf…

Liewe Persoon

Ek twyfel of daar iets op hierdie aarde is wat meer versatile is as ‘n sponskoek. Noem dit sommer die all-rounder van koeke. Jy kan dit kompleet – soos ‘n Gert-Johan Coetzee-nommertjie, optof vir die rooitapyt én terselfdertyd – met ‘n paar pumps en ‘n ligte lipstiffie, haar down-style ,en so die kollig by ‘n skoolbraai steel.

Of sy nou met marsepein spog, snoesig onder botterversiersel rus of, sommer net in ‘n stropie baai, sy bly ‘n staatmaker. My ouma het sponskoek-se-kind altyd met appelkooskonfyt gesmeer en Krismis is gekookte kondensmelk nader getrek. As dinge flop – wat selde met ‘n sponskoek (kan) gebeur, dan maak jy koekstruif. Laasgenoemde is egter nie ‘n persoonlike gunsteling nie, daar is na my mening hopeloos te veel geure, kleure en teksture wat dan saamgedwing word… en vla kan net soveel fix.

Maar iets wat my dwars in die krop steek, is as sponskoek haar lyf tert probeer hou!

Net gister is dit een van daardie ek-soek-nou-koek-dae. Jy weet, daardie dae met die hutsmerk #koekmynou of #koekvirpresident anyway... So tel ek letterlik die sekondes af tot etenstyd en vlieg teen ‘n onbehoorlike spoed – saam met my bestie, na Mugg & Bean. Ek kon letterlik hulle peppermint-crisp tert proe, en het byna soos ‘n hondsdol meerkat om die mond geskuim. Ek was reg vir aksie en my insulienpen was oorgehaal.

En daar is die deure styf toe, en die ligte is af… beurtkrag! Ellende!

Ek was op die punt om ‘n tantrum te gooi wat die mees gesoute kleuter in verwondering sou laat staar. Dit het gevoel of ek wil hiperventileer en ek het skielik ‘n skelhoofpyn hier neffens my lewer ontwikkel. My en bestie se koeklus het toe ook sommer in overdrive gespring, want dis is mos hoe dinge werk…

Ons besluit dat kettingwinkel-koek ook die ding sou doen, en bespring die naby geleë winkel. En wat sien ek toe ek by die koektoonbank kom? ‘n Gesonde sny perpermint-crisp tert. Reeds hier moes ek onraad vermoed het, maar my maag het die dinkwerk gedoen en nie my verstand nie. Die prys – ‘n derde van wat dit by die koffiewinkel kos, het dalk ook tot my onbesonne besluit bygedra. Ek koop terstond ‘n blok en betaal met ‘n honger greinslag die R16.50. Bestie besluit op iets wat lyk soos ‘n merske koeksister met vla.

Terug in die kar kan ons nie wag om te begin smul nie… en dit is net hier waar die ontnugtering my vol in die gesig (of is dit nou, maag?) tref! Dis ‘n blok (baksteen) sponskoek met groen versiersel… van peppermint-crisp is daar nie sprake nie! Dié groen bekleedsel proe pure tandepasta en skielik wil die lepel vol droë sponskoek ook nie ‘n holte in my kies kry nie. My sluk trek skoon toe…

Dis in tye soos hierdie wat ek Ouma Cielie se gesegde van  ‘iemand vir ‘n eendvoël aansien’ onthou en my onmiddelik  aan selfbejammering oorgee.

Maar wat staan ‘n koeklustige vrou te doen? Ek eet toe maar aan dié pretentious tert, want daar moet nooit gesê word dat Annette Willemse nie probeer nie. Ek kon net die helfte van die affêre gesluk kry. Ek verbeel my toe sommer ook terstond dat my maag gevaarlike draaie maak en ek onthou boonop dat ‘n oordosis tandepasta jou in jou spore kan stuut. Vir altyd. Kapoet. End of the line!

Dit kom nou daarvan as ‘n sponskoek haar lyf tert hou!  Hier waar ek nou sit, proe ek steeds tandepasta en so dan en wan val daar ‘n druppel sweet van my voorkop. My maag is beter – ek dink dit is van al die roosterbrood en flat Coke.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button