NewsNews

Regter gee uitspraak in Mei

Regter gee uitspraak in Mei

Die slotbetoë deur die verdediging vir Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen, Cor Loggenberg en Miela Janse van Vuuren, sal eers van 4 tot 8 Maart in die Hoë Hof in Parys deur regter Corné van Zyl aangehoor word. Dit volg nadat die hof vandag (Woensdag 13 Februarie) verdaag is na ‘n drie weke lange sitting waarin die verdediging hul getuies geroep het.

Die staat het vroeër reeds sy saak gesluit waarin hy aanvoer dat die ses beskuldigdes na bewerings Samuel Tjixa en Simon Jubeba sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het. Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans die dag aangekeer na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen Sr op die plaas Biesiesbult.

Tydens die afgelope drie weke se hofsitting het Boeta van der Westhuizen en kapt. Henk Prinsloo hul weergawes van die gebeure in die getuiebank gegee. Skulderkennings ingevolge Artikel 220 van die Strafproseswet is ten opsigte van Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren ingehandig. Ingevolge dié erkennings wat vir die hofrekords ingelees is, erken Anton Loggenberg dat hy een van die mans by die heupgedeelte geskop en die ander een geklap het, terwyl Cor Loggenberg erken dat hy een van die mans een hou met ‘n rottangkierie oor sy skeen geslaan het.

In Loedie van der Westhuizen se erkenningsverklaring word gesê dat hy die twee mans geklap en een ook op die heup geskop het. Ook Miela Jansen van Vuuren se verklaring sê dat hy een van die twee mans twee keer met ‘n gestewelde voet geskop het, waarvan die tweede skop deur die man met sy hande en knieë afgeweer is.

Regter Corné van Zyl sal haar uitspraak in die week van 27 tot 31 Mei gee, waartydens ook begin sal word met die prosedures vir vonnisoplegging. Vonnisoplegging sal geskied op 8 en 9 Julie 2019.

Johan Myburgh en adv. Piet Pistorius tree namens Boeta van der Westhuizen op, Johan Vorster tree op vir Anton Loggenberg, adv. Dawie Reyneke verskyn vir kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen terwyl adv. Hennie du Plessis namens Miela Janse van Vuuren verskyn.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button