NewsNews

Klag is vroeër al teruggetrek, sê staat

Batterye te pap vir skoktoestel om te werk, hoor hof.

Kapt Henk Prinsloo het Maandag onder voortgesette kruisondervraging van die staat verduidelik waarom hy meen hy is geinkrimineer deur een van die staat se getuies, mnr Tom Direko.
Prinsloo het verlede week in die hof onder kruisondervraging gesê dat hy meen die ondersoekspan moontlik met Direko kon onderhandel het om ’n klag van diefstal teen Direko terug te trek, kort voor Prinsloo se arrestasie vir die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik.
Direko was een van ses aangeklaagdes in die diefstalsaak.
Adv. Jabulani Molotshwa wat vir die staat aankla, het egter Maandag aan die hof gesê dat die diefstalklag al teruggetrek is voor die moorde op Tjixa en Jubeba in 2016.
Prinsloo staan saam met Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren tereg op die moord op Tjixa en Jubeba. Die staat voer aan dat die mans die oorledenes sodanig aangerand het nadat hulle deur ‘n groep mans aangekeer is na ‘n plaasaanval dat hul kort daarna aan hul beserings in twee afsonderlike hospitale oorlede is.
Adv. Molotshwa het aan die hof ‘n brief van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging voorgehou wat in November 2015 onderteken is en waarin gesê word dat die klag teruggetrek gaan word. Ook dat Direko en sy medebeskuldigdes in die saak wel op 8 Februarie 2016 in die hof verskyn het waar alle klagte volgens die klagstaat teruggetrek is.
Prinsloo het Maandag gesê dat hy by ’n uitkenningsparade deur Direko uitgewys is en dat hy Direko vroeër moes aanspreek oor te min diensure as polisie-reservis wat gelei het tot Direko se ontslag as reservis in ongeveer 2004. Van die reserviste was ongelukkig oor hul ontslag het Prinsloo gesê.
Adv. Molotshwa het sy kruisondervraging afgesluit met die vraag of Ockert van Zyl, Direko en Mbuzeni Xhalisa wat vir die staat getuig het dat Prinsloo ’n skoktoestel op die toneel sou gebruik het, sou geweet het wat die verskil tussen ‘n flits en ‘n skoktoestel is. Prinsloo het toegegee dat hulle wel die verskil sou ken, maar
volgehou dat hy net die flitsfunksie van die gekombineerde flits/skoktoestel wat hy op die toneel gehad het, gebruik het.
Van Zyl het in sy getuienis vroeër gesê dat hy nie die kenmerkende klapgeluide gehoor het wat ‘n mens gewoonlik sou hoor as ‘n skoktoestel gebruik word nie.
Adv. Dawie Reyneke vir Prinsloo het hierop weer die werking van die flits/skoktoestel voor die hof gedemonstreer, en verwys na vroeëre getuienis waarin gesê is dat die toestel se batterye so pap was dat nie eens die flits wou werk nie, en Prinsloo toe ‘n ander flits gaan haal het. Ook dat die skokfunksie nie werk as die batterye pap is nie.
Tydens Maandag se hofverrigtinge is ‘n skulderkenning ingvolge Artikel 220 van die Strafproseswet ook vir Cor Loggenberg ingedien waarin hy erken dat hy een van die oorledenes een hou met ’n rottangkierie oor sy skeen geslaan het.
Die verhoor is tot Vrydag 15 Februarie op die hofrol waarna die hof sal verdaag tot 4 Maart vanjaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button