NewsNews

Opdatering: ‘Ons skole is struktureel veilig’

Opdatering: ‘Ons skole is struktureel veilig’

Vaalweekblad, soos ander internet-nuusgroepe en ‘n bekende dagblad, het  die name van 15 Vaaldriehoekse skole gepubliseer wat volgens mnr. Philip van Staden, Vryheidsfront Plus-lid van die Provinsiale Wetgewer in Gauteng, dringende aandag benodig om te voorkom dat nog ‘n tragedie plaasvind soos wat verlede Vrydag by die Hoërskool Driehoek gebeur het.

Volgens Van Staden het die VF Plus die inligting bekom van ‘n bron wat al meer as vyftien jaar betrokke is by skole en ook in skoolbeheerliggame gedien het. Die skole wat genoem is, is almal in Vanderbijlpark, Vereeniging en Midvaal.

Die VF Plus het Dinsdag gesê dat die departemente van infrastruktuur-ontwikkeling en onderwys in Gauteng versoek sou word om strukturele ingenieurs na alle skole in die provinsie te stuur om seker te maak dat skole veilig is vir leerlinge en onderwysers.

Vaalweekblad het intussen oproepe van sommige van die skole wat deur Van Staden geïdentifiseer is, se hoofde of beheerraadvoorsitters gekry, wat die VF Plus verkwalik dat hul skole se name aan die media verskaf is sonder om hulle in die saak te ken.

 

  • Volgens die beheerraadvoorsitter van die Laerskool DF Malherbe in Vanderbijlpark (een van die laerskole op die lys) is die skool struktureel veilig. “Ons doen jaarliks ons onderhoud. Die Vryheidsfront Plus is onverantwoordelik en probeer politieke punte hierdeur kry,” sê Grobbelaar.  Hy neem die VF Plus kwalik dat Laerskool DF Malherbe nie vir kommentaar gevra is voordat die lys vrygestel is nie.

 

  • Mnr. Frik Roets, beheerliggaamvoorsitter van die Hoërskool Overvaal, sê in ‘n brief aan Vaalweekblad dat onnodige paniek gesaai word deur die VF+ en die media  omdat geen van die genoemde skole vooraf genader is om die bewerings te bevestig nie. (Vaalweekblad het wel voordat die berig geplaas is, met sommige van die skoolhoofde gepraat, maar niemand was bereid om amptelik kommentaar te lewer nie omdat hulle nie self met die media mag praat nie. Vaalweekblad het intussen kommentaar van die Onderwysdepartement aangevra en sal die departement se reaksie publiseer sodra dit ontvang word. – Redakteur).  

 

  • Lees mnr. Roets van Hoërskool Overvaal se brief hier onder:
  • Ten eerste wil ons graag ons meegevoel uitspreek teenoor die ouers van Hoërskool Driehoek wat geliefdes aan die dood afgestaan het en dra elke ouer, leerder en personeellid op in ons gebede.Na die tragiese gebeurtenis by Hoërskool Driehoek op Vrydag, 1 Februarie, het die beheerliggaam van Hoërskool Overvaal besluit om indringend na ons skool se infrastruktuur te kyk. Die beheerliggaam het pro-akief opgetree en het reeds op Saterdag, 2 Februarie, ‘n siviele ingenieur by die skool gehad om die algemene veiligheid van die skool se infrastruktuur te ondersoek. Die [beton]bruggie is as ‘n moontlike knelpunt uitgewys en ons het besluit om die bruggie eers af te kordon tot tyd en wyl ‘n strukturele ingenieur die brug kan kom evalueer vir veiligheid.

    Vanaf Maandag, 4 Februarie het ons ook die bruggie beveilig deur addisionele bestutting en is die bruggie deur beide amptenare van die Departement van Onderwys sowel as onafhanklike ingenieurs ondersoek. Ons wag vir die verslag en sal binnekort optree volgens hulle aanbevelings.

    Dinsdag, 5 Februarie het die verslag van die Vryheidsfront Plus die lig gesien en het ek as voorsitter van die beheerliggaam onmiddellik met Kobus Hoffman van die VF+ in verbinding getree. Ek is ook die voorsitter van die beheerliggaam by Laerskool Risiville. Ons het Woendag, 6 Februarie saam met Kobus van die VF+ deur Hoërskool Overvaal sowel as Laerskool Risiville gestap en hy kon homself vergewis dat ons proaktief en voorkomend besig is om na die twee skole se veiligheid om te sien. Mnr. Hoffman het teenoor my aangedui dat hy tevrede is met die maatreëls wat ons reeds in plek geplaas het voor hulle al hul verklarings gedoen het.

    Die beheerligaam en bestuurspan van Hoërskool Overvaal dra die veiligheid van elke leerder en personeellid op die hart en sal daadwerklik optree wanneer ons die verslae terugontvang het. Graag wil ons die ouers verseker dat ons skool veilig is en dat die beheerliggaam optree waar nodig.”

  • Vaalweekblad het die afgelope week oproepe van verskeie besorgde ouers ontvang wat sê dat hulle foto’s het van strukturele verval by hul kinders se skole in die Vaaldriehoek. Skoolhoofde met wie Vaalweekblad gepraat het, vra dat ouers sulke bekommernisse onverwyld met hulle moet kom bespreek sodat daar daadwerklik aandag aan elke potensieel gevaarlike area by die skole gegee kan word. “Geen skoolhoof sal ‘n ouer verwyt of verneder oor hul bekommernisse nie. Kom praat liewer met ons direk as om paniek in die media te saai,” vra ‘n Vanderbijlparkse hoof.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button