NewsNews

Kaptein getuig oor arrestasietoneel

Kaptein getuig oor arrestasietoneel

Kapt Henk Prinsloo het Woensdag 6 Februarie  in die Hoë Hof in Parys getuig oor die tydsverloop vandat hy van die aanranding op Loedie van der Westhuizen Sr gehoor het, totdat hy op die toneel op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik gekom het, en later die toneel  aan die speurhoof-bevelvoerder oorhandig het.

Prinsloo wat saam met Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen Jr, Miela Jansen van Vuuren, Anton Loggenberg en Cor Loggenberg, tereg staan op die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba, het getuig hoedat hy van diens was die aand van 6 Januarie 2016 toe hy deur Pieter Kemp van die Parys Landelike Veiligheidsgroep  van die plaasaanval op Loedie van der Westhuizen op die plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik net buite Parys, in kennis gestel is. Die oproep was om 18:24 volgens Prinsloo se selfoonrekords.

As  Sigbare Polisiëring koördineerder het hy die Parys-polisiestasie geskakel om die inligting deur te gee en te vra dat die stasie die nood- en veiligheidsplan aktiveer. Een van sy take as Sigbare Polisiëring Koördineerder was juis om toe te sien dat alle polisiestasies noodplanne in plek het en op datum hou.

Nadat hy daarna  inligting ontvang het van Kemp dat gewapende mans in die rigting van die N1 gevlug het, het Prinsloo sy uniform aangetrek en weer aan diens gegaan. Hy is na die Cluster-kantoor in Tumahole om sy koeëlvaste baadjie, flits en polisievoertuig te kry – ‘n gemerkte Toyota Quantum minibus.

Hy  is onderweg na die toneel  deur Kemp meegedeel dat die verdagtes gearresteer is. Prinsloo het om 19:24 op die arrestasietoneel gekom. Met sy aankoms het Prinsloo getuig dat hy Boeta van der Westhuizen by die honde sien staan het en ‘n ent daarvandaan die wit bakkie van Anton Loggenberg. Anton  het by die bakkie gestaan. Boeta het aan Prinsloo die omstandighede van die aanval op sy pa verduidelik en gesê dat sy pa se honde die aanvallers tot daar gevolg het. Hy’t ook gesê dat die beskuldigdes op Anton se bakkie was.

Prinsloo is toe na die bakkie waar een van die mans met sy rug teen die kajuit gesit het, en die ander parallel met die bakkie se klap gelê het. Prinsloo het getuig dat beide se oë toe was en dat hy met albei probeer kommunikeer het. “Ek het die flits gevat wat in my hand was, en hom in sy sy gedruk.” Prinsloo het getuig dat daar geen reaksie was nie. Ook dat hy toe ombeweeg het na die ander verdagte en dieselfde gedoen het – maar dat daar ook nie by hom reaksie was nie.

Hy het getuig dat hy beide verdagtes met water gelawe het, en ook water aan een gegee het nadat hy daarvoor gevra het. Hy het die man se kop met sy een hand vasgehou en toe water uit ‘n spuitbotteltjie in die man se mond gespuit het. Die man het verstik en daar het bloederige water uit sy mond gekom, waarop Prinsloo met die hulp van Boeta van der Westhuizen die man op sy sy gedraai het. Prinsloo kon nie die man alleen draai nie omdat hy pas van siekverlof teruggekom het na ‘n elmboogoperasie. Op daardie stadium het die man na die ander een gewys en gesê dat hy die vuurwapen in Vicki se lande gegooi het. Dit was toe hy gevra is na die vuurwapen wat na bewering tydens die aanval op Loedie van der Westhuizen Sr gebruik is.

Prinsloo het ontken dat hy ‘n skokstok sou gebruik het op die toneel soos wat deur drie van die staat se getuies getuig is. Die getuies het destyds onder kruisverhoor gesê dat hulle nie die skoktoestel gehoor het of enige reaksie by die verdagtes gesien het nie.

Voorts het Prinsloo getuig dat hy op en af tussen sy minibus en die bakkie beweeg het om verskeie foto’s van die verdagtes se skoene te stuur aan a.o. Awie van Rooyen van die Sasolburgse honde-eenheid wat op Biesiesbult was. Prinsloo was in die tyd wat hy op Swartklip was, deurentyd in verbinding met polisielede wat op Biesiesbult was, maar sein was swak wat hom genoodsaak het om die boodskappe te stuur vanwaar die minibus geparkeer was, waar sein sterker was.

Op ‘n vraag van adv. Dawie Reyneke  oor of Prinsloo enige beserings aan die mans gesien het, het Prinsloo gesê dat beide se lippe en oogbanke geswel was en beide bloed om hul neus/mond gehad het. Een het ook ‘n klein snytjie op sy wang gehad. Prinsloo het  getuig dat hy kon sien beide is beseer, maar nie gedink het dat hul beserings so ernstig was nie.

Hy het nie enige persoon in die tyd wat hy op die toneel was gesien wat die mans aangerand het nie, het Prinsloo getuig. Daar is ook gesê dat hy nie die opdrag gegee het dat die mans met die vangwa vervoer moes word nie.

Op ‘n vraag van adv. Reyneke oor waarom hy nie die mans met die polisie-minibus vervoer het nie, het Prinsloo verduidelik dat die spasie en uitleg van die minibus dit nie toelaat nie, en ook dat die opdrag is om nie alleen prisoniers of gevangenis te vervoer nie weens die risiko van ontsnapping.

Prinsloo het in sy getuienis gesê dat hy die toneel bewaar het soos wat volgens sy pligte as sigbare polisiëring koördineerder vereis is, totdat hy die toneel oorhandig het toe hy die geleier van die plofstof-hond moes gaan haal het langs die R723 omdat hy nie die toneel kon kry nie. Hy het toe gehelp om met sy voertuig die terrein te verlig waar die honde in die lande na die vuurwapen moes soek.

Anton Loggenberg het tydens Woensdag se hofverrigtinge ‘n erkenning  ingvolge Artikel 220 van die Strafproseswet ingedien waarin hy erken dat hy een van die mans by die heupgedeelte geskop en die ander een geklap het.

Die verhoor is nog tot 15 Februarie op die hofrol. In sy saak beweer die staat dat die ses mans wat aangekla is, Tjixa en Jubeba na bewering so aangerand het dat hulle aan hul beserings beswyk het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button