NewsNews

“’n Mens kan nie daardie vrees beskryf nie”

“’n Mens kan nie daardie vrees beskryf nie”

“’n Mens kan nie daardie vrees beskryf nie. Jy verloor dit”, het ’n emosionele Boeta van der Westhuizen Woensdag in die getuiebank gesê waar sy kruisondervraging voortgesit is in die Hoë Hof in Parys voor regter Corné Van Zyl.
Van der Westhuizen staan saam met sy seun, Loedie, skoonseun Miela Jansen van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo, en Anton Loggenberg en sy seun, Cor, tereg op 2 klagte van moord.
Dit spruit uit ’n voorval 3 jaar gelede op 6 Januarie 2016 toe Boeta se pa, Loedie van der Westhuizen Sr, op sy plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik buite Parys, aangeval is.
Verskeie mense het op die noodroep na die aanval gereageer en hulle na die toneel gehaas waar twee mans, Samuel Tjixa en Simon Jubeba toe aangekeer is.
Die staat voer aan dat Tjixa en Jubeba sodanig deur die ses mans wat aangekla is, aangerand is dat hulle aan hul beserings beswyk het.
Van der Westhuizen het soos Dinsdag weer gesê dat hy besef dat wat hy gedoen het verkeerd was toe verwys is na getuienis oor die aanranding van die mans.
“Op daardie stadium het ’n ou kop verloor en is jy buite jouself. Als het natuurlik gebeur, “ het hy vroeër getuig.
Boeta het adv Johan Vorster wat vir Anton Loggenberg verskyn, se stelling beaam dat
die gevaar en bedreiging wat hy en ander mense in die omgewing moes gevoel het, op die toneel gestalte gekry het uit die wete dat daar nog ’n vuurwapen en moontlik nog ’n verdagte soek was. Toe verwys is na ’n vorige plaasaanval waarby mense na aan Boeta geraak is, het dit hom sigbaar ontstel.
Óor die emosies wat hy op die toneel ervaar het, het Boeta erken dat hy bang was en nie toe geweet het hoe ernstig sy pa beseer was nie.
Daar is in die hof gesê dat Boeta en een van sy medebeskuldigdes, Anton Loggenberg, vir kol Deon Topkin van die Valke sou vertel het van die vuurwapen wat Jubeba gesê het hulle in ’n dam gegooi het na die aanval op Loedie Sr, maar dat Topkin Anton later glo sou gebel en gesê het dat hulle nie die dam gaan leegpomp soos gevra is nie, “omdat dit gaan inmeng in sy saak”.
Die hof het Woensdag gehoor dat die opdrag eers gegee was om Jubeba en Tjixa na Biesiesbult te skuif, en toe weer dat hulle nie van die plaas Swartklip af geskuif moes word nie. Adv. Dawie Reyneke wat namens Kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen verskyn, het dit uitgewys dat Prinsloo ten tyde van die voorval ’n lid van die polisie se Sigbare Polisiëring eenheid was wie se taak dit is om beheer van ’n toneel te neem, en nie as speurder of ondersoekers op te tree nie.
Hy het gesê dat Prinsloo sal getuig dat die aanvanklike opdrag om Jubeba en Tjixa na Biesiesbult te skuif, van ’n veiligheidsgroep gekom het, maar dat Prinsloo self die opdrag gegee het om nie die mans te skuif nie, omdat hy geweet het dit die toneel kon kontamineer.
Adv Reyneke het Boeta gevra of hy geweet het dat Prinsloo die polisiestasie in Parys gevra het om ’n noodplan te aktiveer omdat dit ’n plaasaanval was. Ook dat hy gevra het dat ’n ambulans na die toneel moes gaan.
Adv. Reyneke het verwys dat die lang tydsverloop waarna spesifiek Dinsdag in die hof verwys is voordat die speurhoof, Gert Bruwer, en ander polisielede op die toneel gekom het. Hy het beklemtoon dat Prinsloo se taak juis was om die toneel op te pas en dat Bruwer die instruksie vir arrestasie moes kom gee.
Boeta het getuig dat Prinsloo nie teenwoordig was toe hy wat Boeta is een van die mans met ’n waaierband “getik” het nie.
Die verdediging het aangevoer dat Prinsloo dit juis nie sou gesien het nie omdat hy deurentyd in kontak was met die polisielede wat die toneel op Biesiesbult bygewoon het, en dat hy gevra is vir foto’s van die verdagtes se skoene vir die hondemeester wat toe reeds op Biesiesbult was. Daar is gesê dat Prinsloo op en af tussen die bakkie waarop Jubeba en Tjixa was, en die polisie minibus geloop het waarmee hy na die toneel gekom het. Dit was om die foto’s van die mans se skoene te kon stuur omdat sein swak was. Die twee voertuie was ver uitmekaar.
Ook dat Prinsloo een van die mans water gegee het toe hy daarvoor gevra het, en selfs met die hulp van Boeta die man regop gehelp het sodat hy die water kon drink. Prinsloo het op 6 Januarie 2016 teruggekom van siekverlof na ’n operasie aan sy skouer, wat sy arm so verswak het, dat hy Boeta moes vra om te help om die man regop te kry, het adv. Reyneke gesê.
Boeta het op vrae van adv. Reyneke gesê dat hy weet Prinsloo se flits se battery op ’n stadium pap geraak het, en dat hy nie gesien het dat Prinsloo die man met ’n skoktoestel sou geskok het, soos wat vroeëre getuies in die hof getuig het nie.
Boeta se kruisondervraging is Woensdag 30 Januarie afgehandel en sal hy nou met sy regsverteenwoordiger, adv. Piet Pistorius kan konsulteer.
Die hof het Woensdag gehoor dat Loedie Jr nie net sy oupa se naamgenoot was nie, maar baie naby aan hom was en hom met sy boerdery gehelp het. Hy was maar 17 jaar oud ten tyde van die voorval. Loedie Sr is in 2018 oorlede.
Die verhoor word môre (Donderdag 31 Januarie) voortgesit, en sal daar dan na verwagting vir uitstel na Maandag 4 Februarie gevra word, vir die getuienis van ’n mediese kundige wat deur die verdediging geroep gaan word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button