CommunityPhoto Galleries

Kom trap saam vir Bybels

Die 16de Bybeltrap vir die Bybelgenootskap vind plaas die naweek van 22 en 23 Februarie.

Die 16de Bybeltrap vir die Bybelgenootskap vind plaas die naweek van 22 en 23 Februarie. Hierdie jaar se Bybeltrap is deel van ’n projek wat in 2020 eindig met die 200-jarige herdenkingfeesvierings van die Bybelgenootskap. Vanjaar se Bybeltrap begin op Fochville wanneer fietsryers van Carletonville, Fochville, Randfontein en omliggende dorpe vertrek na Parys waar daar gestop word vir ontbyt by die AGS Sion-gemeente.
Parys se fietsryers sluit dan by hulle aan vir die tweede skof Kroonstad toe. In Kroonstad word middagete geniet by die NG Gemeente Kroonstad-Suid.
Die laaste skof vir die dag is Welkom toe waar die fietsryers oornag. As die fietsryers in Welkom aankom, is die eerste 200km vir almal wat van Fochville afgery het. Gewoonlik word daar Vrydagaand saam met ‘n borg, om die braaivleisvuur gekuier.
Saterdagoggend sluit die fietsryers van Welkom en omgewing by die groep aan en vertrek om 06:30 na Bultfontein.
Na ‘n ruskans en iets te ete daar val die groep dan weer in die pad vir die laaste deel van die toer na Bloemfontein waar almal by die Shell City langs die N1 bymekaar.
As almal daar is, ry die hele groep die laaste paar kilometers na die Bybelhuis in Nelson Mandelarylaan waar ’n onvergeetlike Bybeltrap eindig.
Elke fietsryer kry ‘n medalje en word die toer afgesluit met die sing van die Oorwinningslied saam met Piet Smit.
Kom beleef die Oorwinningslied in sy volle betekenis, want elke Bybeltrap is ‘n oorwinning!
Almal wat belangstel om deel te wees van hierdie projek, is welkom om vir Dawie Bornman te kontak by (056) 811 4864 gedurende kantoorure, of na-ure by 083 263 3848
2020
Gedurende Augustus 2020 sal ’n groep fietsryers vanaf Beitbrug via Kaap Agulhas na Kaapstad ry as deel van die 200-jaar herdenkingfeesvierings van die Bybelgenootskap.
Hoekom geld insamel vir die Bybelgenootskap?
Elke Bybel wat gedruk word, word teen ‘n verlies van R55 per Bybel in die handel beskikbaar gestel. Tans kort hulle 23 miljoen Bybels in die land om ten minste een Bybel in elke huis te hê. Dus ’n tekort van 23 000 000 x R 55 om vir elke huishouding ‘n Bybel moontlik te maak. ’n Bybel in ‘n huis kan ’n gesin verander, ’n gesin kan ’n buurt verander, en ’n buurt ’n dorp of stad ensovoorts.
Daarom kan tereg gesê word dat ’n Byel in iemand se hande, tot sewe mense se lewens kan raak.
Daar is verskeie maniere hoe jy kan bydra om Bybels moontlik te maak:
• Die Bybel-per-maand-projek – Bydraes word gemaak deur middel van ‘n maandelikse debietorder aan die Bybelgenootskap
• “Die enigste pil wat werk is GOSPEL” – Pilhouer projek – Jy kan deel wees deur R5 munte in ‘n pilhouer te spaar. Indien die pilhouer vol is, maak dit twee Bybels moontlik. Daar is selfs houers vir R2 munte.
• Borg ‘n fietsryer – Fondse word ingesamel deur fietsryers te borg wat aan die Bybeltrap deelneem.
• Gemeente-projekte soos by die NG Gemeente Parys-Oos wat jaarliks ‘n jaffelbak projek het waarvan die opbrengs deel vorm van die Bybeltrap.
• Comrades-deelnemers het ‘n projek waarmee hulle fondse insamel met hul deelname aan die Comrades
• Bemaking ten gunste van die Bybelgenootskap in boedels.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button