NewsNews

Man word in hospitaal wakker na padwoede-aanval

Man word in hospitaal wakker na padwoede-aanval

VANDERBIJLPARK. – ‘n Vinnige draai na die winkels vir ‘n brood het vir ‘n plaaslike inwoner in ‘n nagmerrie ontaard toe hy deur ‘n ongeduldige padgebruiker aangerand is en in die hospitaal wakker geword het.
Neels van Wyk (58) en sy vrou Elsa wou Sondag 6 Januarie net na 12:00 gou ’n brood by Riverview Spar gaan koop. “Ek het in die ryvlak gewag vir ‘n parkering terwyl Elsa gou uitgeklim het om solank die brood te gaan kry,” vertel Neels aan Vaalweekblad. “Dis toe dat die man agter my in ‘n Toyota Fortuner begin toeter blaas en middelvinger wys.”
Volgens Neels is die bestuurder van die Fortuner daarna met ‘n spoed verby hom en hy het self toe ‘n parkering gekry en geparkeer. “Terwyl ek gesit en wag het, word my deur skielik oopgeruk en begin die man my in die gesig slaan.  Daarna kon ek niks onthou nie en het eers weer in die hospitaal wakker geword,” vertel Neels.
Elsa het die man in Spar gekonfronteer en self ‘n foto van hom geneem. Elsa het Neels na die Mediclinic Emfuleni geneem waar hy bygebring is. Volgens Neels het hy ‘n saak van aanranding gaan oopmaak en is gisteroggend, Dinsdag 8 Januarie, na die polisie om sy aanvaller te identifiseer, maar die polisie kon die verdagte tot dusver glo nog nie opspoor nie.
Omdat Neels daagliks met kliënte werk, sterk hy tuis aan totdat sy gekneusde gesig ‘n bietjie beter lyk.
* Die naam van die verdagte, wat glo bekend is in sekere sportkringe, word weerhou tot na sy arrestasie en verskyning in die hof.

 

 

Related Articles

Back to top button