NewsNews

Munisipaliteit moet opdok ná beserings weens slaggat

Munisipaliteit moet opdok ná beserings weens slaggat

Armand le Hanie destyds tydens sy behandeling in Mediclinic Emfuleni.

Retha Fitchat

VAALPARK. – Armand le Hanie was ‘n 16-jarige skoolseun van Hoërskool Transvalia toe hy op Sondag, 20 Julie 2014 omstreeks 17:55 ‘n groot slaggat in Gamsbergstraat, Vaalpark, met sy 125cc-motorfiets getref en geval het.

Buiten talle slaggate in die straat wat ‘n gevaar vir motoriste was, was twee straatligte aanliggend en oorkant die plek waar die ongeluk plaasgevind het, reeds etlike maande buite werking. Omdat dit winter was, was dit reeds sterk skemer en boonop donkermaan, wat padgebruikers se visie van die slaggate in die straat nog swakker as gewoonlik gemaak het.

Armand is sleg in die val beseer en is onder andere met geskeurde ligamente in sy linkervoet, ernstige beserings aan albei voete se tone en verskeie skaaf-, kneus- en snywonde aan sy hande, arms, bene en voete in Mediclinic Emfuleni opgeneem. Hy moes ‘n operasie ondergaan en is vyf dae in die hospitaal behandel. Buiten dat hy twee weke se skoolwerk gemis het, moes Armand weke lank opvolgbehandeling kry en ‘n mediese beenstut dra. As mededingende sportman wat onder andere ‘n derde dan swartgordel in taekwondo verwerf het, kon Armand vir drie maande nie sy hoofsport, krav maga, beoefen nie.

Armand en sy pa, mnr. Lenord le Hanie, wat vir die bybetaling van die mediese rekeninge en vir die herstelwerk aan die beskadigde motorfiets verantwoordelik was, het Metsimaholo na die ongeluk vir kompensasie gedagvaar omdat die munisipaliteit versuim het om sy wetlike plig (om paaie te onderhou, om waarskuwings by gevaarlike padgedeeltes aan te bring en om toe te sien dat straatligte werk) na te kom.

Mnr. Le Hanie senior, self ‘n bekende taekwondo-grootmeester met ‘n 7de dan swartgordel, het die saak daarna saam met sy prokureur, mnr. Francois du Plessis van AV Theron & Swanepoel, sowel as advokaat Rico van der Merwe en prokureur Tony O’Reilly van Bloemfontein, tot in die hooggeregshof in dié stad gedryf.

Die hooggeregshof het in die Le Hanies se guns beslis, waarna Metsimaholo geappelleer het. Die hof se Appèlraad in Bloemfontein het Metsimaholo se aansoek egter onlangs met koste van die hand gewys. Die finale kompensasiebedrag moet nog bepaal word. Die regskoste van sowat R2 miljoen sal ook deur Metsimaholo – of indirek deur belastingbetalers – gedelg moet word.

Volgens mnr. Le Hanie senior is die uitslag van die saak nie net ‘n oorwinning vir hom en sy seun nie, maar vir alle inwoners wat hul munisipaliteite tot verantwoording wil roep oor swak dienslewering.

“Die jaarlikse toename in dienstefooie is ‘n groot finansiële inspuiting vir Metsimaholo se stadskoffers, gevolglik móét daar meer geld beskikbaar wees om die instandhouding van paaie, die slaggate, die afvoer van riool en stormwater te kan hanteer. Hoe word die inwoners se diensteheffings en erfbelasting aangewend vir basiese instandhouding van die infrastruktuur in ons woonbuurte? Dit blyk duidelik dat Vaalpark, Zamdela en Sasolburg se inwoners nie gerespekteer word nie,” is sy mening.

* Na afhandeling van die hofsaak kan Armand nou uiteindelik vorentoe kyk en sy toekoms beplan. Hy is tans in Viëtnam waar hy sy mondigwording in November gevier het. Hy skryf resensies vir ‘n bekende internasionale rekenaarmaatskappy en na ure studeer hy per afstandonderrig in joernalistiek aan Unisa. Hy deel ‘n wooneenheid saam met twee mede-Suid-Afrikaners en volgens sy pa geniet hy die ondervinding terdeë.

Related Articles

Back to top button