News

Beleggers verloor miljoene rand in internetskema

Sommige beleggers wat net R3 000 belê het, het in die eerste maande glo uitbetalings van tot soveel as R50 000 per maand ontvang.

 

VANDERBIJLPARK. – Die nuwe jaar het vir sowat 3 000 beleggers op ‘n kommervolle noot begin deurdat hul geld, wat in ‘n internet-handelskema gebruik moes word om winste te genereer, alles “verdwyn” het. ‘n Groep van sowat 30 besorgde beleggers het verlede Woensdag voor Vanderbijlpark se landdroshof en polisiestasie saamgedrom om vas te stel of hulle ‘n amptelike klag kan lê teen mev. Maggie Brandt, wat die Option Plus 500-skema (later BEAM-FX-skema) in Vanderbijlpark bedryf het. Die beleggers het gesamentlik glo meer as R6 miljoen verloor, maar die bedrag kan veel hoër wees soos wat nóg teleurgestelde beleggers na vore kom.

Die skema, wat behels het dat kuberhandelaars oor die internet namens beleggers handel dryf in produkte soos titanium en ru-olie, het glo vroeg in 2018 in Vanderbijlpark begin. Mev. Brandt het aanvanklik as Option Plus 500, wat glo ‘n tak in Australië het, begin bedryf. In April is begin om kliënte te werf wat elk net R1 500 moes belê. Binne die eerste week is R19 000 reeds hoofsaaklik deur senior burgers en mense wat afleggingspakkette by hul werk ontvang het, belê. Baie beleggers is ook gelok deur ‘n spesiale aanbod, naamlik dat hulle binne een maand R150 000 sou ontvang as hulle net R5 000 belê. Van dié beleggers is glo SASSA-pensioenarisse wat hul lewenslange neseiers in die skema gewaag het. Vaalweekblad het in die afgelope week vasgestel dat die beleggers ook nie net van die Vaaldriehoek is nie, maar ook van die Vrystaat en Kaapprovinsie. In die eerste maande wat die skema bedryf is, het die bedrae wat individue belê het astronomies begin groei. Mev. Brandt het in ‘n stadium sowat 70 agente aangestel wat elk na hul eie beleggingskliënte moes omsien. Sommige beleggers wat net R3 000 belê het, het in die eerste maande glo uitbetalings van tot soveel as R50 000 per maand ontvang. Die agente sou 10% kommissie op hul kliënte se uitbetalings kry. Bitter min agente het egter ooit ‘n sent daarvan gesien. Van mev. Brandt se familie en vriende wat agente was, het volgens ander agente wel groot uitbetalings ontvang.

 

En toe hou die uitbetalings skielik op…
Mev. Sanet Vance, een van die agente wat nou namens haar 196 kliënte veg om hul beleggingskapitaal uit mev. Maggie Brandt van BEAM-FX te probeer kry, sê dit was nie ongewoon dat mense gou nadat die skema gestig is, groot bedrae begin belê het nie.

Sommige het tussen R25 000 en R80 000 belê. Beleggers van sulke groot bedrae is glo deur mev. Brandt belowe dat hulle binne enkele weke uitbetalings van tot soveel as R400 000 elk kon verwag.

Hoewel die beleggers nie amptelike kontrakte of kwitansies ontvang het vir die geld wat hulle belê het nie, het elkeen ‘n “customer pack” gekry, wat verduidelik het hoe die beleggingskema werk. Mev. Brandt het glo verduidelik dat winste nie 100% gewaarborg kon word nie, maar het beloof dat niemand hul beleggingskapitaal sou verloor nie.

Gedurende Junie en Julie verlede jaar het sy R2,5 miljoen aan beleggers uitbetaal, maar die betalings het toe skielik gestop.

Mev. Brandt het verskeie redes hiervoor aan die agente verskaf, soos dat die amptelike registrasie van haar besigheid eers moes deurgaan voordat sy verdere uitbetalings kon maak.

Daarna het sy verduidelik dat sy nie uitbetalings kon maak nie omdat SARS eers insae in die bedrae wat aan beleggers uitbetaal moes word, wou hê.

Hoewel sommige beleggers tot soveel as R10 000 in kontant by mev. Brandt inbetaal het, het meeste agente hul kliënte se beleggings direk in haar Standard Bank-rekening inbetaal. Dié rekening is egter in September sonder enige verduideliking gesluit en ‘n nuwe rekening is by Absa geopen.

Baie van die agente het saam met die beleggers onrustig begin raak omdat hulle geen maandelikse uitbetalings gekry het nie. “Van die aanvanklike 70 agente het 20 hul lêers na Maggie teruggeneem omdat hulle begin lont ruik het en nie langer by die skema betrokke wou wees nie,” sê Sanet.

Mev. Brandt het uiteindelik in September met die waarheid uitgekom: haar aangestelde internethandelaars het foute gemaak en meeste van die geld wat in die kubermarkte belê is, was verlore, het sy per WhatsApp laat weet. Sy het egter onderneem om steeds handel te dryf en die verliese op te maak sodat sy almal se uitbetalings teen 7 Desember sou kon doen. Teen dié datum het sy egter laat weet dat die uitbetalings eers op 31 Desember gedoen sou word. Dié datum het ook gekom en gegaan sonder dat enige uitbetalings gemaak is. Van die beleggers het aan Vaalweekblad gesê hulle aanvaar dat die meeste van hul wins weg is, maar hulle gaan steeds veg om minstens ‘n deel van hul kapitaal terug te kry.

* Vaalweekblad het Maandag vasgestel dat die Valke se eenheid vir ernstige ekonomiese misdrywe in Germiston bewus is van die klagte teen mev. Brandt en dat dit moontlik verder deur dié eenheid ondersoek gaan word.

Related Articles

Back to top button