LetterOpinions

Vyf dinge wat ek wens hulle my op skool geleer het

ʼn Mens sal dink dat ʼn 12-jaar lange skoolloopbaan jou ʼn paar dinge van die lewe sou leer soos hoe om ordentlik te ‘grootmens’.

ʼn Mens sal dink dat ʼn 12-jaar lange skoolloopbaan jou ʼn paar dinge van die lewe sou leer soos hoe om ordentlik te ‘grootmens’, maar nee. Pythagoras en Hitler gaan my mos nie help met die dinge waarmee baie grootmense vandag nog sukkel nie.

Sodra jy bo 25 is begin mense aanneem dat jy semi-wys is en ʼn paar dinge darem op jou eie kan behartig. Ek kry myself nog gereeld waar ek my ma moet bel of Google moet raadpleeg vir alledaagse dinge wat ek eintlik veronderstel is om te weet.

Hier is vyf dinge wat ek wens hulle my op skool geleer het:

  1. Belasting! Belasting is elke jaar vir my ʼn nagmerrie. Ek weet ek moet dit betaal maar niemand leer jou ooit dat jy op ʼn sekere tyd elke jaar al jou goed bymekaar moet kry om vir die mense van SARS te gaan bewys dat jy dit wel doen nie (en toe hoor ek party mense kry sommer geld terug ook nog).
  2. Hoe om ʼn ordentlike e-pos te stuur of telefoon oproep te maak. Hierdie kan ek darem doen maar ek kry vandag bitter baie te doen met jongmense wat geen idee het hoe om dit te doen nie. Hulle weet nie hoe om ʼn e-pos te begin of af te sluit nie en antwoord die foon soos wat hulle sou as een van hul pelle hul bel.
  3. Hoe om ʼn wiel te ruil. So ja, nie almal van ons kon by ons pa, boetie, oom of neef leer hoe om ʼn wiel te ruil nie, en ek dink dit is iets wat almal (man of vrou) behoort te kan doen. Ek weet hoe om die skroefies los te draai maar o, wee, hoe op aarde werk die ‘jack’?
  4. Hoe ʼn kredietkaart werk. Die idee van ʼn kredietkaart klink aanvanklik goed, aangesien jy geld kry (van nêrens af nie) en dit dan op jou eie tyd kan terug betaal, maar hoeveel jy op die einde van die dag terugbetaal word mos nou nie in die opskrif vir jou verduidelik nie. Tot jy later met ʼn skok besef jy sit knie-diep in die skuld.
  5. Hoe om basiese noodhulp toe te pas. Dit sal rêrig baie help as ek geweet het hoe om ʼn vriend te help as hy dalk aan iets verstik of as ek dalk in die bos is en ek beseer myself. Nou moet ek maar net hoop iemand kry my voor ek uitbloei!

So ja, ek dink LO (Lewensoriëntering) moet dalk bietjie fokus op die belangrike dinge in die lewe ook – die dinge wat jy werklik gaan gebruik wanneer jy ʼn grootmens word.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button