NewsNews

Wat sê prokureurs oor die vuurwerkkwessie

Die afvuur van enige tipe vuurwerke (wat as plofstof gesien word), word dus steeds beheer deur die Plofstofwet 26 van 1956 wat landwyd sonder uitsondering van toepassing is.

Volgens Anne-marie du Toit van Du Toit Drotsky Prokureurs, en ook voorsitter van die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF), wil dit voorkom asof wetgewing onderteken (Wet 15 van 2003), waardeur die 1956 Plofstofwet geskrap sou word, nooit in werking getree het nie. Die afvuur van enige tipe vuurwerke (wat as plofstof gesien word), word dus steeds beheer deur die Plofstofwet 26 van 1956 wat landwyd sonder uitsondering van toepassing is.
Du Toit sê die probleem plaaslik is dat daar geen munisipale bywette (wat ook die vuurwerkkwessie moes aanspreek), tans in Parys in plek is nie. Tog is daar wel munisipaliteite met plaaslike wetgewing wat die afvuur van vuurwerke beheer. Die vraag is egter, sou die bywette in plek gestel word, wie die munisipaliteit sal kry om seker te maak dit word nagekom. Vroeër jare het munisipale verkeersbeamptes in Parys die funksie vervul. Vandag het Parys nie meer munisipale verkeersbeamptes nie.
Die polisie self sit met die uitdaging van beperkte mannekrag en voertuie, en het reeds hul hande vol veral oor Kersfees en Nuwejaar, wanneer daar ook tradisioneel meer padblokkades gehou word, en polisiëring nodig is by byeenkomste soos vanjaar gesien is by die Mimosa Tuine.
Hoewel vuurwerkhandelaars steeds die nodige permitte moet hê, is daar soveel handelaars en straatverkopers dat ook hier nie voldoende wetstoepassing is nie. Vanjaar het die polisie weer vuurwerke gekonfiskeer, en selfs op 28 Desember ’n straatverkoper gearresteer en ’n R1000 boete opgelê. Maar dit is eenvoudig net die spreekwoordelike druppel in die emmer. As alle handelaars se permitte nie gekontroleer word vir jaarlikse hernuwing en die nakom van permitvoorwaardes nie, help dit nie. Die polisie stel daarom voor dat inwoners, sou hul handelaars sien wie vuurwerke verkoop wat nie in ’n glaskas toegesluit is nie, of onder ’n toonbank gehou word met ’n sigbare geldige permit nie, dit by die polisiestasie se vuurwapenlisensie afdeling gerapporteer word.
Du Toit sê die GPF sal al dié aspekte by hul volgende maandvergadering op 17 Januarie bespreek en terugvoer gee, want naas die trauma wat dit vir diere skep, kom dit ook neer op rusverstoring. Diere se gehoor is baie beter as dié van mense. Waar mense tussen 20Hz en 23KHz kan hoor, hoor honde 60Hz tot 45KHz, en katte 45Hz tot 64KHz. Dit beteken dat katte dus klanke kan hoor wat minstens twee en ‘n half oktawe hoër is as wat mense kan hoor. Dit is ook waarom katte en honde reageer op fluitklanke. Katte is selfs nog meer sensitief vir sulke sagte geluide. Dit verduidelik waarom katte en honde so bang is vir vuurwerke. Vir ons troeteldiere klink daardie geluid vyf keer so hard sê ’n veearts, dr. M.E. de Vries.
Kyk jy na die plofstofwet, word die afvuur van vuurwerke in ‘n gebou, of in enige openbare plek of oord onder meer verbied as daar nie vooraf geskrewe toestemming deur die plaaslike owerheid (gedeelte 10.34) is nie.
Daar word ook duidelik verwys na uitstallings van vuurwerke op persele wat nie gedoen kan word sonder die nodige permitte nie, waarvoor daar duidelike voorwaardes is, en die oortreding hiervan as kriminele oortreding uitgewys word. Selfs al sou ’n handelaar ’n permit hê kan die vuurwerke nie geskuif word na ’n straatstalletjie of waar die publiek dit kan hanteer nie. Daar is ook baie duidelike reëls oor die verpakking.
Verder bepaal die wet ook dat kinders onder 16 nie ’n permit kan kry om vuurwerke te hanteer of te gebruik, sonder volwasse toesig nie.
Waar dit kom by die afvuur van vuurwerke op private eiendom, en die wettigheid aldan nie daarvan, is dit weer eens plaaslike regulasies wat hier die deurslag kan gee. Phillip van der Merwe, ook ’n prokureur en VF Plus Ngwathe raadslid, stem saam en sê dat dit uit ’n regsoogpunt tog lyk of dit meestal aan munisipaliteite oorgelaat word om self bywette oor die afvuur van vuurwerke neer te lê. Van der Merwe sê Ngwathe het jare gelede ‘n werksdokument as beleid aanvaar, maar dit is nog nooit as bywet gepromulgeer nie, en het dus nie regskrag nie. Gazette het ’n afskrif hiervan onder oë gehad waar gesien kan word wat die vereistes en reëls sou wees indien die bywet wel gepromulgeer was.
Tans moet inwoners hulle verlaat op die algemene nasionale bywette, waar die afvuur van vuurwerke in woongebiede nie verbode is nie – slegs in parke, strate of op sypaadjies. Dan ook nie binne 200m vanaf hospitale, klinieke, vulstasies, ouetehuise, verpleeginrigtings of by diereversorgingsplekke nie, sê hy. “Dit is nie naastenby so doeltreffend as wat Ngwathe se eie bywet sou wees nie.”
Hy sê dat hy die kwessie oor die promulgering na aanleiding van die klagtes oor vuurwerke met die munisipale bestuur sal opneem.

Related Articles

Back to top button