Groot vreugde en blink toekomsplanne het vanoggend die kroon gespan op 12 jaar se harde werk vir matrikulante van die Hoërskool Parys.
Naas die feit dat die Fezile Dabi-streek waarin Parys val, weer die beste in die distrik presteer het met ‘n 91,8% slaagpersentasie, het Jana Naude nie minder nie as 7 vakonderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, geografie, lewenswetenskappe en fisiese wetenskap. Sy is ook onder die top 100 matrikulante in die Vrystaat wat vanoggend spesiale erkenning in Bloemfontein ontvang het. Jana gaan vanjaar medies aan die Vrystaatse Universiteit studeer.

Nog ‘n leerling van die skool, Jolandi Krige, het 6 vakonderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskap. Sy begin vanjaar met haar CA studies aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus.
Lialma Sinclair wat ook medies gaan studeer aan Kovsies, het 5 A’s ingepalm vir Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, geografie en lewenswetenskappe.
Cara Erasmus spog op haar beurt met 4 A’s in Afrikaans, Engels, geografie en lewensoriëntering. Sy gaan optometrie aan UJ studeer.

Ca-Leigh Sieberhagen en Nicole Smit in die ry waar die matrikulante vanoggend gewag het vir hul uitslae.



Van links is JC Smidt (2 onderskeidings), Marcel Beuke (3 onderskeidings), Luan Beckmann en Charles Pieterse (1 onderskeidings). Op die foto regs is ‘n vreugde-oomblik van twee matrikulante vasgevang.
Volledige uitslae en ander kandidate wat onderskeidings behaal het, naas die toppresteerders, sal in die Parys Gazette se uitgawe van 10 Januarie gepubliseer word. So ook uitslae van ander skole in die Parys-distrik.
Ons gelukwense aan al die matrieks met die mooi uitslae wat behaal is.




