Die 43-jarige Sabelo Patrick Dlamini wat aangekla is van die moord op die 61-jarige Danie van Heerden van Meyerton, asook die rig van ‘n vuurwapen, is vandag borgtog van R5 000 toegestaan.
Netwerk 24 berig dat Dlamini volgens sy regsverteenwoordiger glo intussen deur die Rooimiere geskors is met betaling.
Dlamini, ‘n veiligheidswag van die Rooimiere, het in ‘n stampvol hofsaal voor streeklanddros Retha Willemse verskyn. Hy moet weer op 6 Februarie in die streekhof in Vereeniging wees.
Die staat voer aan dat Dlamini Van Heerden op 27 Desember 2018 na bewering tydens ‘n woordewisseling doodgeskiet het.
Van Heerden word oorleef deur sy 13 kinders onder wie Danie van Heerden, ‘n voormalige EFC swaargewigkampioen, en Chris van Heerden, ‘n voormalige IBO wêreld weltergewig bokskampioen.
Die begrafnisdiens vir wyle Danie van Heerden word eerskomende Vrydag om 11:00 vanuit die AGS Kerk in Pierneefstraat, Meyerton, gehou.




